Blondekop dogtertjie kritiek na sy verstik

Wat begin het as ’n uitslag, het vinnig in ’n nagmerrie ontaard vir ’n 21-maande-oue dogtertjie, wat nou al meer as ’n maand in die intensiewesorgeenheid behandel word.

Renicke Coetzer se ouers het vir ure nie geweet of sy dood is of lewe nie, nadat die blondekop babatjie opgeneem was vir ’n uitslag in die Life Midmed Hospitaal.

Sy sou op 1 Junie die dag nog ontslaan word, toe sy egter skielik gestik het in medikasie, haar eie braaksel ingeasem en haar hart gaan staan het.

Hierdie week is dit al 31 dae wat die kleine Renicke nog in die intensiewesorgeenheid van Garden City Hospitaal in Johannesburg lê. Die gesin se medies is uitgeput en verblyfkostes, sodat Renicke se mamma by haar kan wees, skiet die hoogte in.

Renicke se ouers het ’n BackABuddy fonds gestig met die hoop dat skarebefondsing sal kan help met spesialisbesoeke, bloedtoetse, X-strale, fisioterapie en verblyf vir Dijané, Renicke se ma.

Dijané het op Renicke se profiel verduidelik hoe dokters vir ure gestoei het om Renicke se hart weer aan die gang te kry.

“Ons moes vier ure wag voordat iemand vir ons kon sê of sy lewe en of sy gesterf het. Sy het geleef!”

Sy is dadelik na Life Midmed se intensiewesorgeenheid geskuif en op asemhalingsmasjiene geplaas waar daar bepaal is dat Renicke ’n lugborrel tussen haar longe en ribbes opgedoen het. Dit het veroorsaak dat haar longetjies platgeval het en ’n dreineringsbuis moes ingesit word.

Twee dae later is Renicke per helikopter na die Garden City Hospitaal, wat 200km ver van hulle huis af is, oorgeplaas.

“Ons ken niemand in Johannesburg by wie ons kan bly nie en dus moes ons verblyfkostes aangaan sodat ek naby Renicke kan wees.”

Van daar af was dit ’n wipplankrit van op en af vir die familie. Skanderings het aangedui dat Renicke trauma op die brein opgedoen het weens ’n gebrek aan suurstof, en ook ’n moontlikheid dat Renicke aan breinverlamming sou lei.

“Ons het bly bid daarteen en deur genade alleen het skanderings later getoon dat sy minimale breinskade opgedoen het.”

’n Trageostomie is later ingesit, sodat Renicke vinniger sal herstel en na ’n gewone saal geskuif kan word.

Daar word elke derde dag bloedtoetse gedoen, omdat haar toestand steeds kritiek is en daagliks word X-strale geneem.

Die gesin se mediese fonds is uitgeput, wat beteken dat hulle nie meer kan betaal vir nodige toetse, fisio, X-strale of die pediatriese kritiese-sorg dokter wat Renicke se behandeling moniteer nie.

Intussen is ’n voedingsbuis ook ingesit, omdat dokters vrees dat Renicke moontlik aan haar kos sal stik, wat weer ’n terugslag sal veroorsaak.
Boonop sal Renicke oorgeplaas moet word na ’n rehabilitasie hospitaal om weer te leer praat, eet, loop… weer te leer leef.

“Die onkostes hoop op en die gesin het nie die fondse om vir Renicke die rehabilitasie te gee wat sy verdien nie,” sê die motiveringsbrief verder.

Daarom is die BackABuddy rekening vir Renicke gestig met ’n mikpunt van R100 000 om Renicke te ondersteun in haar lang pad na herstel.

’n Beroep word op die gemeenskap gedoen om bydraes te lewer, deur in te gaan op die volgende skakel:

https://www.backabuddy.co.za/campaign/renicke-coetzer

“Bid asseblief vir ons lyfie dat haar hartjie kan rustig raak. Bid asseblief vir die dokter se hande dat sy die regte besluite kan maak, en dan vra ons ons Vader om ook na ons susters te kyk. Die susters werk vreeslike lang ure en monitor ons babas permanent. Ons bid nog steeds vir totale genesing. Hierdie baba van ons is bewys dat ons ’n lewende God dien en ek sal dit bly getuig! Bid ook asseblief dat die goggas en die infeksies wegbly van haar af. Baie dankie vir almal se gebede. Renicke het nog ’n baie lang pad wat voorlê, maar ons dank die Here vir elke dag wat Hy haar dra en beskerm.”

Exit mobile version