Boer vertel van trauma tydens kaping en skietery op Belfast plaas

Plaasrowers in ’n swart Mercedes het in die middel van die pad gestop en losgebrand op ’n boer van Belfast nadat hy hulle agterna gesit het, omdat hulle een van sy werknemers gekaap het.

Die boer (wat op hierdie stadium anoniem wil bly) is dankbaar dat nie hy of sy werknemer beseer is tydens die kaping, en latere skietery nie.

Die traumatiese gebeure het Vrydag begin terwyl een van sy werknemers besig was om uitbetalings te doen aan toggers wat vir hulle mieliekoppe optel.

Hierdie toggers is in diens geneem, sowat drie maande gelede, nadat ’n tornado deur talle plase buite Belfast verwoesting gesaai, en mielies platgevee het.

Terwyl sy werknemer nog besig was om die lone uit te betaal, het vier gewapende rowers deur die mielieland aangestap gekom.

Met die pistole teen sy kop gerig, is die werknemer by sy werksbakkie ingedwing, waarop hulle met hom van die mielieland af weg gery het.

Op hierdie tydstip het die boer aangery gekom en het die ander toggers vir hom geskree: “Hulle steel die bakkie!” Hy het ’n U-draai in die mielieland gemaak en dadelik die bakkie agterna gesit, wat ingedraai het op die R33 (Belfast/Carolinapad).
“Daar was ’n trok tussen my in die bakkie en het ek ’n bietjie agter geraak.”

Die rowers het agtergekom dat hulle agtervolg word en het die gekaapte bakkie, met die werknemer nog daarin, langs die pad gestop, waarop hulle almal in ’n swart Mercedes gespring het.

Hulle het ook die sleutels uit die bakkie gehaal.

Die werknemer het dadelik per radio die boer in kennis gestel dat die rowers hom langs die pad gelos, en weggekom het in die swart Mercedes.

Die boer het in die verte die Mercedes gesien en hulle steeds agtervolg.

“Net voor Belfast het die Mercedes skielik voor my gestop en het drie van die rowers uitgeklim en op my begin skiet met 9mm pistole. Hulle het my gelukkig nie raakgeskiet nie, maar ek moes terugval.”

Intussen het hy ander boere van die omgewing gebel om hulle te vra om paaie toe te maak.

“Ons het eers later deur middel van veiligheidskameras agtergekom dat die groep ook ’n wit VW Polo gehad het wat saam met die Mercedes gery het. Die Mercedes moes gestop het en drie van die rowers het in die VW Polo geklim.”

Die boer meld dat die boere en polisie onbewus was dat van die rowers in die VW Polo geklim het, en dat hulle dus nikswetende die voertuig by die padblokkade laat deurgaan het.

Lees ook:
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/07/02/suspect-arrested-for-alleged-armed-robbery-possession-of-hijacked-vehicle/

Die bestuurder van die Mercedes het egter gesien dat die paaie toe is en het op die eerste grondpad wat hy kon sien, links gedraai.

’n Klein entjie verder was daar egter ’n hek en het die booswig besef hy kan nie verder ry nie, waarop hy uitgespring en die bosse ingevlug het. Kort daarna het die polisie hom in die bosse gearresteer.

• In ’n persvrystelling deur die provinsiale polisie, is later gesê dat die verdagte wat gearresteer is, positief verbind word met die kaping op die plaas.

Ernest Nkosi (37) het hierdie week in die Belfast Landdroshof verskyn op talle klagtes wat verband hou met die kaping en latere skietery.

• Met nadere ondersoek het die polisie gevind die Mercedes Benz is met vals registrasienommerplate toegerus, en in Mei vanjaar in Verena gekaap.

Exit mobile version