News

Kamtige ‘kontrakteur van munisipaliteit’ loop gastehuise en besighede in

As jy weet jou besigheid se rekening is betaal en ’n ‘kontrakteur’ van die munisipaliteit bel om te sê jy moet hom betaal, anders sit hy jou krag af, stuur hom warmplek toe!

’n Swendelaar wat hom voordoen as ’n kontrakteur van die munisipaliteit “wat die krag gaan kom afsit” spits hom tans op gastehuise en besighede toe.

Een van die besighede het in die laaste paar weke R10 000 aan die ‘kontrakteur’ betaal, omdat hy kamtig oppad was met ’n hofbevel om hul krag te kom afsit.

Vanoggend het ’n ontstoke me. Hannelie Coetzee (eienaar van ’n gastehuis) die Observer gebel en gesê dat die booswig haar gebel het en gesê het haar krag gaan afgesit word.

Hy het te vertelle gehad dat iemand met die kragboks gepeuter het en dat die krag van die gastehuis afgesit gaan word, as ’n spesifieke bedrag nie dadelik aan hom oorbetaal word nie.

Sy het dadelik vir rdl. Hennie Niemann gebel, wat op sy beurt die elektriese afdeling gekontak het om uit te vind of daar wel agterstallige gelde op haar rekening is. Hulle het hom egter verseker dat sy nie agterstallig is nie.

Rdl. Niemann sê sy is nie die eerste gastehuis wat gekontak word deur die swendelaar nie.

“Dit gebeur gewoonlik hierdie tyd van die maand dat hy gastehuise kontak en sê hulle rekeninge is agterstallig of daar is met ’n kragboks gepeuter en dat hulle verantwoordelik is vir die rekening. Mense moet egter as hulle so ’n oproep kry, dadelik self die elektriese afdeling bel en hoor of daar agterstallige gelde op hul rekeninge is.”

• ’n Opsigter (wat anoniem wil bly) by ’n besigheidskompleks vertel hoe hy gebel is deur ’n man “wat baie oortuigend was. Dit het regtig geklink of hy ’n kontrakteur van die munisipaliteit is. Hy het gesê daar is met ons kragboks gepeuter en dat die totale verlies R3000. Hy het ook gesê dat hy reeds ’n hofbevel het om die krag te kom afsit.”

Die opsigter het dadelik die eienaar van die kompleks laat weet, waarop die eienaar die ‘kontakteur’ gebel het.

Daar is gesê dat as hy R6 500 dadelik oorbetaal, kan hy die hofbevel stop en sal dit R3 000 kos om twee nuwe meters te kom installeer. Verder het hy ’n ekstra R500 gevra vir sy ‘span’ om die werk te kom doen.

Die niksvermoedende sakeman het die geld oorbetaal, net om later te verneem dat alles een groot bedrogspul was.

 
Back to top button