Direkteur dood in bakkie gekry by berugte Snake Road

'n Inwoner van Middelburg is in sy bakkie doodgeskiet en langs die pad gelos.

‘n Direkteur van Genet Mineral Processing, mnr. Johan Cowan (49), is gisteroggend dood in sy luierende bakkie by die Snake Road-afrit in Benoni gekry.
Hy is doodgeskiet.

“Alles is nog so deurmekaar, ons weet nie wat gebeur het nie,” het sy ma, Anne Cowan, gesê, wat soos Johan, ‘n inwoner van Middelburg is.

Mnr. Cowan is Saterdag uitgeroep na een van die groep se nuwe myne in Vanderbijlpark.
Hy was die hele tyd in telefoniese verbinding met sy vrou, Lunilda.

Teen laataand het hy haar nie meer gekontak nie en het die werknemers hom ook nie meer in die hande gekry nie.
Daar is aanmekaar na sy selfoon toe gebel en het Lunilda baie onrustig geraak.

Kort voor 05:00 gisteroggend het ‘n speurder die selfoon geantwoord en hulle die nuus meegedeel dat hy dood in sy luierende bakkie gekry is.

Van die werknemers het haar later laat weet om dadelik sy kaarte te stop, want hulle het gesien sy beursie is weg.
Sy skootrekenaar, selfoon en pistool was nog in die voertuig.

“Johan ry altyd met sy wapen by hom, omdat hy so baie op die pad is. Daar is twee patroondoppies in die bakkie gekry, maar ons weet nie of hy met sy eie wapen doodgeskiet is nie.”

Me. Cowan meld dat die opsporingstelsel in sy bakkie nagegaan is, wat aandui dat die bakkie op ‘n stadium omgedraai het en in ‘n nabye nedersetting rondgery het. Die bakkie is ook in Gauteng se rigting gekry.

Dit laat die vermoede bestaan dat hy moontlik gekaap kon gewees het.

* Die gebeure herinner sterk aan ‘n voorval verlede Saterdag waar twee jong mense, wat ‘n voertuig in Middelburg moes kom afgee, deur die berugte blouligbende naby Delmas gekaap is.

Hulle is die aand omstreeks 19:30 afgetrek deur ‘n voertuig met blou ligte en toe hulle stop en die ‘polisiemanne’ hulle laat uitklim om die voertuig te deursoek, is daar vir hulle gesis: “this is a hijacking!”

Daar is met hulle rondgery in ‘n onbekende nedersetting en hulle is gedwing om hul pinkodes van hul bankkaarte vir die kapers te gee.

Die paartjie is later in die veld afgelaai en het hulle gaan hulp soek in een van die strate. Die persoon, wat vir hulle sy selfoon gegee het om hul familie te laat weet, het vir hulle gesê dat hulle in die Tsakane nedersetting is.

* Mnr. Cowan is beskryf as ‘n mense-mens wie se hart en hand altyd oop was vir ander.

Hy word oorleef deur sy vrou, Lunilda, kinders Wian en Luanri, ouers Willie en Anne en susters Dorothy en Cecilia.

Lees ook:

Blouligbende en kapers het hoofweë in oorlogsone verander

 

 

Exit mobile version