Hans was bekende skrywer en geliefde oupa

Die 91-jarige Hans Bornman was bekend as skrywer, kunstenaar en illustreerder, maar hy was veral ook geliefd as aanneem-oupa wat graag met die kleingoed geskerts het.

Hy is op 27 Maart, net voor hy sy 51ste boek kon bekendstel, oorlede.

Middelburgers het hom leer ken toe hy sy boek, “Owls of Southern Africa,” in 2020 hier bekend gestel het. Hy het nie net die boek geskryf nie, maar die illustrasies van die uile self gedoen.

Oom Hans was eintlik ’n Laevelder, maar in Desember 2020 het ek hom leer ken.
Hy was nie ’n man van baie woorde nie, hy het alles eerder neergepen.

Toe ek vra vir ’n onderhoud oor die boek, het hy net gesê: “My idee vir die boek het begin toe Danie Scholtz my gevra het om ’n uil vir hom te teken…”

Dit was dit. Geen spoggerige, langdradige verduidelikings nie. “Alles staan mos in die boek,” het hy gelag.

In hierdie tyd het ek ook, sy regterhand, vir Jackie Scholtz, ontmoet.

Hans Bornman en Jackie Scholtz met die bekendstelling van sy boek, “Owls of Southern and Western Africa.”

Jackie het vertel dat sy oom Hans leer ken het toe ’n vriendin hulle aan mekaar voorgestel het.
Hulle was albei lief vir geskiedenis en navorsing en het dadelik saam begin werk aan boeke.

Sy het haar daarna oor hom ontferm en was van daar af nie net sy uitgewer en helper met navorsing nie, maar het ook sy boeke (Phoenix Drukkers en Uitgewers) vir hom gedruk.

“The True Life Story of Cockney Liz, the Legendary Barmaid of Baberton” was die eerste boek waarmee sy gehelp het met navorsing.

Omdat sy dogters albei oorsee is, het Jackie sedert die begin van die Covid-19 pandemie besluit om ook na hom om te sien.

Net daar het Jackie sy persoonlike assistent geword, wat nie net gehelp het met navorsing nie, maar alles wat hy nodig gehad het, vir hom gekry het en ook sy boekbekendstellings gereël het.

Haar familie het sy familie geword, en was hy ’n groot inspirasie vir hulle almal.

In Oktober 2021 het Yolandi Botha (Jackie se dogter) en haar vyftienjarige dogter, Keara, saam met oom Hans hul boeke bekend gestel.

Hy het sy tweede boek oor uile (33ste boek op daardie stadium), genaamd “Owls of Southern Central and Western Africa” hiertydens bekend gestel.
Oom Hans was egter nie geïnteresseerd dat daar veel oor hom gesê moes word nie.

Hy was meer opgewonde oor Yolandi wat haar derde digbundel, “Woorde op Papier/Words on Paper” en Keara wat haar kinderboekie, “Stoute Feëtjie Leer ’n Les” bekend gestel het.

Daar is destyds opgewonde gewys dat hy al die illustrasies vir hulle boeke ook gedoen het.

Sy sagte hart het weer die oorhand gekry toe hy in November 2022 gehoor het dat Amora Dierepark moes weg waar hulle was in Cowen Ntulistraat (hulle het eers later plek gekry by die Middelburg Stasie).

Boonop sou die park se geliefde donkies dalk ’n ander heenkome moes kry.

Oom Hans het dadelik ingespring en vir Leah en een van die ander donkies geskilder.

Die skets wat oom Hans van Amora Dierepark se donkies gemaak het, van nader gesien.

Afdrukke van die skildery is tydens die park se Kersmark daardie jaar verkoop vir fondse.

In Desember 2022 het oom Hans saam met Jackie na Middelburg verhuis en in Februarie 2023 skryf ons dat hy vir sy 90ste verjaarsdag drie nuwe boeke bekend gestel het.

Dit was: “Die Geskiedenis van die Krugerwildtuin”, “Mpumalanga Lowveld and Kruger National Park Place Names” en “Photo History of Nelspruit, Mbombela.”

Tom Pienaar, die direkteur van die destydse Parkeraad (nou Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap), het die boek oor die plekname onder oë gehad.
Hy het vir oom Hans gesê dat dit “die belangrikste boek is, wat ooit oor die Krugerwildtuin geskryf is.”

Ons het vir oom Hans gevra of hy ooit met pensioen sal gaan of sal ophou skryf, waarop hy ’n danspassie uitgevoer en laggend gesê het: “ek sal eendag op my begrafnis daaraan om met pensioen te gaan en op te hou navorsing doen.”

• Hans het homself as jong man bekwaam as prokureur, voordat hy besef het dat hy eintlik ’n kunstenaar is, wat nie net op doek besondere werke gedoen het nie, maar ook ’n passie gehad het vir skryf.

Hy was op ’n stadium redakteur by die Lowvelder, waarna hy hom voltyds op sy passie, om boeke te skryf en te illustreer, toegespits het.

“Ons het baie boeke saamgeskryf en navorsing gedoen. Ons het mekaar geïnspireer,” sê Jackie.

Sy het genoem dat hy onlangs haar baba kleindogter, Lily, geteken het. “Dit was die laaste skets wat hy ooit gemaak het.”

• Die boek, “Early History of Hazyview Gateway to the Kruger National Park and the Panorama Route”, word op 13 April by Casterbridge in Witrivier bekend gestel.

Hiertydens sal Jackie ook praat oor sy ander boeke, wat insluit: “The True Life Story of Cockney Liz the Legendary Barmaid of Baberton”, “Graskop on the Panorama Route”, “On a Lowveld Farm”, “Kruger National Park Placenames”, “Mpumalanga Lowveld and the Kruger National Park Placenames“ en “Photo History of Nelspruit/Mbombela”.

• Jackie is ook besig om Hans se boek oor alwyne te laat herdruk as koffietafelboek. Hy het die boek in 1971 uitgegee, en soos vele van sy ander boeke, het hy die illustrasies self gedoen.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version