News

Een sterf, een beseer in Mandelarylaan

In die bestek van ’n paar ure is een man ernstig beseer en het ’n ander een gesterf in ongelukke in Mandelarylaan.

Alhoewel die areas waar die ongelukke plaasgevind het, baie ver van mekaar af is, blyk dit dat spoed en moeilike sig vanuit dwarsstrate die oorsaak was van die ongelukke.

Hendré Greybe het ’n ernstige besering aan sy keel opgedoen toe hy Maandag omstreeks 08:00 uit Hektaarstraat (industriële gebied) gedraai het in Mandelarylaan in.

Sy voertuig het ’n minibus getref wat sowat 50m verder in ’n veld tot stilstand gekom het.

Hendré is steeds in die Life Midmed Hospitaal waar hy vir sy beserings en harsingskudding behandel word.
Die insittendes van die minibus het nie ernstige beserings opgedoen nie.

• Net ’n paar uur later, omstreeks 17:00, het José Ndikara (35) gesterf toe hy met sy motorfiets, waarmee hy aflewerings gedoen het vir Mr D, vanaf Hexrivierstraat (Aerorand) voor ’n aankomende trok in Mandelarylaan beland het.

Met die impak is hy van sy motorfiets af geslinger. Hy het opslag gesterf.

• Nadat beide berigte op die Middelburg Observer webtuiste verskyn het, het sakelui (Hektaarstraat) en inwoners van Hexrivierstraat gesê hoe moeilik dit is om vanuit die strate by Mandelarylaan in te draai.

Mnr. José Ndikara (35) het Maandagaand gesterf in ’n ongeluk waar sy motorfiets, waarmee hy aflewerings gedoen het vir Mr D, deur ’n trok getref is.

Jy moet amper heeltemal in die pad inry om verkeer, wat van die regterkant af kom, te sien.
Boonop maak die pad ’n blinde hoogte en die oomblik as jy links draai, kom trokke en voertuie teen ’n geweldige hoë spoed oor die bult gejaag.

Sakelui het gemeld dat daar al talle botsings was en dat daar ’n paar jaar gelede ook ’n man in ’n ongeluk gesterf het.

Hexrivierstraat het amper dieselfde probleem. As jy in die straat probeer indraai, het jy bykans geen kans om dit veilig te doen nie, want die trokke en voertuie wat van beide kante af teen ’n hoë spoed aangery kom, maak dit onmoontlik.

Selfs op die ongelukstoneel het ’n mens kriewelrig gevoel omdat talle voertuie en trokke steeds baie vinnig verby die toneel gejaag het, al was een baan heeltemal gesluit.

Van die inwoners van Hexrivierstraat sê ook dat hulle eerder om die blok na ’n ander uitgang by die area uitry, as om in Mandelarylaan in te draai.

• Almal is dit eens dat daar gekyk sal moet word om óf meer stopstrate aan te bring, óf om spoedwalle aan te bring om die verkeer stadiger te laat beweeg.

• Mnr. Louwtjie Swart (Van Wettens Insleepdienste) was op beide tonele. Hy het ’n WhatsApp-groep, “Traffic Alert” waar mense op hoogte kan bly van alle voorvalle op die paaie. Persone wat graag op die groep bygevoeg wil word, kan hom bel of ’n WhatsApp stuur na 078 400 9517.

Back to top button