News

Ma glo seun is aangeval voor trein hom tref

Reinhardt van Niekerk (45) is aangeval en sy liggaam op die treinspoor geplaas waar die Rovos-trein hom getref het. So glo sy ma, Clara (75).

Sy is nou meer as ooit oortuig dat Reinhardt nie selfmoord gepleeg nie.

Hy was wel depressief die laaste ruk, maar het haar belowe dat hy nooit sy eie lewe sal neem nie.

“Hy het die laaste ruk gesê hy wil graag by die Middelburgdam ’n rukkie gaan sit en ek glo hy het Sondagaand besluit om soontoe te gaan, toe hy hier weg is. Ek dink hy wou net sy mindset gaan regkry,” vertel sy.

Reinhardt het egter nooit huis toe gekom nie en sy het die volgende dag gehoor dat hy dood is nadat ’n trein hom gestamp het.

Wat haar snuf in die neus laat kry het, is dat daar Reinhardt nie beweeg het toe die trein aangekom het nie. Die treindrywer het gesê dat daar geen reaksie was toe hy die fluit geblaas het nie.

Nadat sy gehoor het hy is dood, is sy na haar seun se kamer, waar sy gesien het dat hy al sy persoonlike besittings, soos sy paspoort, rooi Bybel, klere, sy badseep, handdoek, tandeborsel, ’n botteltjie wyn en kussing in sy rugsak gepak het.

Reinhardt en sy ma, Clara van Niekerk. Reinhardt het Maandag in die vroeë oggendure op ’n treinspoor gesterf toe die trein hom getref het.

“Hoekom sou hy sy rugsak gepak het as hy net ’n entjie vanaf die huis sou loop om te gaan selfmoord pleeg?”

Clara is van mening dat haar kind net buite die plothek aangeval is.

“Reinhardt sou nie stilgestaan het nie. Hy sou teruggeveg het en hulle het hom seker seer gemaak vir sy rugsak, omdat hulle dalk gedink het daar is iets waardevols in.”

Tot vanoggend toe nog het sy probeer navraag doen of sy rooi en swart rugbysak by die spoorlyn gekry is, maar niemand kon aan haar bevestig of dit by hom was nie.

Sy het hartseer gesê dat sy ook na die plek wil gaan waar haar seun dood is. “Ek weet nie presies waar hy gekry is nie.”

Clara sê sy weet niks gaan haar kind ooit kan terugbring na haar toe nie, maak nie saak wat sy doen nie.
“Ek kan nie my kind terugkry nie, maar ek gaan sy naam van die selfmoordlys afhaal. Dit was nie selfmoord nie!”

• Reinhardt het sedert 2016 aan en af by sy ma gebly as hy van die buiteland af teruggekeer het.

Hy het onder andere in Costa Rica by ’n lodge gewerk en toe onderhoudswerk gedoen by ’n firma in Londen.

Wat haar baie trots maak, is die werk wat hy in die Oekraïne gedoen het.
“Hy was een van die vrywilligers wat gaan help het om oumense en kinders uit wonings, wat erg beskadig is deur die bomaanvalle, te gaan uithaal en na veiligheid te bring.”

• Ma en seun het ’n besondere verhouding gehad. Sy het twee foto’s gestuur wat geneem is in April 2023 van haar en hom saam. Op een van die foto’s soen Reinhardt sy ma op die wang.

Lees ook:

Man wat op treinspoor gekry is was ’n bekende rugby afrigter

Luukse trein tref man wat op spoor lê

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button