News

Daar is ’n ‘martelhuis’ vir verslaafdes

Nog verslaafdes het navore gekom oor ’n ‘martelhuis’.

Kort nadat ’n berig gister verskyn het oor die “rehabilitasiesentrum”, het ’n familielid laat weet dat hul seun ook ’n jaar gelede ‘ontsnap’ het uit dié huis.
Hy is sedertdien skoon van dwelms en hulle wou nie uitbrei oor wat alles daar gebeur het nie, maar het bevestig dat hy soortgelyke gebeure beleef het, terwyl hy daar was.

’n Verslaafde (wat verkies om anoniem te bly) het ’n Middelburg Observer joernalis gekontak en gevra “dat iets gedoen word.”
Hy het beskryf hoe verslaafdes met sambokke geslaan is, aan mekaar vasgeketting is in ’n kamer en hulle almal saam ’n emmer as toilet moes gebruik.

Volgens hom word die huis deur ’n man, wat homself ’n ‘pastoor’ noem, bedryf en dat hy skenkings kry van kruidenierswinkels.

Vanoggend het nóg mense bevestig dat daar wel so ’n huis bestaan.

In ’n anonieme e-pos het ’n persoon gesê: “die artikel oor dit is waar. Ek kan ook dit beaam en bewys lewer. Asseblief, iets moet gedoen word.”
Daar is egter nie ’n antwoord verskaf toe daar gevra is watter bewyse daar is nie.

Sowat ’n uur later is nog ’n e-pos ontvang waarin daar selfs ’n ligging op die Stoffbergpad (op ’n grondpad) vir die joernalis gestuur is.
Die persoon het gesê dat hulle ’n jongman onlangs ontmoet het wat afvalkos op ’n perseel kom haal het.

“Hy het aan ons verduidelik dat hy ’n plaas op die Stoffbergpad gekry het en dat hy ’n rehabilitasiesentrum daar wil begin.”
Hulle het gaan kyk om hulp aan te bied, en het gesien dat daar wel persone buite rondloop.

“Ek het in die kar gesit en gesien dat van die mense in ’n kamer bly waar hulle goed gevra het deur ’n venster. Ek kon natuurlik nie sien dat die mense toegesluit was nie, maar hulle het kommunikeer deur ’n klein gat in die venster.”

Volgens die brief het hulle ’n klein rukkie later “een man by die huis sien uitkom. Altwee sy voete was vasgemaak aan ’n wielrim (velling) met ’n ketting wat hy rondgedra het!”
In die e-pos is gesê dat hulle nie weet of dit dieselfde plek is nie, maar dat “sommige besonderhede dieselfde is.”

Lees ook:

Verslaafdes ‘met sambokke geslaan en met kettings vasgemaak’

Back to top button