News

Beskuldigde: “Kobus het hom doodgemaak “

Waarheid kom stuk-vir-stuk uit na sinnelose moord

In verrassende getuienis wat gelewer is tydens ‘n borgaansoek in ‘n moordsaak, het een van die beskuldigdes vanmiddag gesê dat die ander twee niks met die moord te doen het nie.

Danie Maritz is tussen Woensdagnag en Donderdagoggend vermoor.

Jan Jordaan (beskuldigde 2) het vanmiddag tydens die drie se borgaansoekverrigtinge gesê dat Angelique (Angie) Appelgryn en Alexander (Alex) Grobler nie by was toe Danie Maritz doodgemaak is nie.

Die drie is Donderdag en Vrydag gearresteer nadat Danie se oorskot in ‘n uitgebrande voertuig gekry is.

Danie is na bewering by ‘n skrootmetaal besigheid in Middelburg vermoor en is daar met sy liggaam gery na ‘n area in Clewer waar die voertuig aan die brand gesteek is.

Alex Grobler.

Die Audi A3 het behoort aan Appelgryn.

Die drie beskuldigdes het Maandag voorgekom en is die saak vandag weer op die rol geplaas vir borgaansoek.

In sy getuienis het Grobler gesê dat hy aangerand is deur die polisie om ‘n bekentenis af te lê.

Jordaan was na hom in die getuiebank.

Reeds vroeg in sy getuienis het Jordaan uitgeroep: “Kobus het hom doodgemaak!“

“Kobus” is nie een van die beskuldigdes nie en het Jordaan beweer dat Kobus gevlug het toe hy hoor dat die polisie na hulle soek.

Daar is kort voor vieruur begin met Angie se getuienis oor waarom die hof borg moet toestaan.

Angie Appelgryn.

Net die drie se regsverteenwoordiger, adv. Petrus Ntuli, kon haar ondervra om spesiale omstandighede te bewys waarom sy kliënte borg moet kry.

Daar was egter nie tyd vir die staat, by monde van aanklaer, mnr. Rehan Lourens, om Angie te ondervra nie, omdat die tyd hul ingehaal het.

Landdros Christa Pohl het die saak laat oorrol na more om die res van die borgaansoek aan te hoor.

Daar word verneem dat die ondersoekbeampte in die saak ook more getuienis vir die staat sal lewer.

Die drie bly in aanhouding tot more.

* Danie se familie was ook weer by die hofverrigtinge.

Danie Maritz se oorskot is in die kattebak gevind nadat die voertuig uitgebrand het.

Hulle het vir die joernalis gesê dat daar DNS van Danie se pa, Willem, geneem sal word wat met die oorskot wat in die kattebak gekry is, vergelyk sal word.

Die oorledene het onherkenbaar verkool.

Om die uitslag van die toetse te bespoedig, sal die familie betaal dat ‘n privaat laboratorium die DNS toetse doen.

Lees meer hier: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/11/20/familie-probeer-sin-maak-uit-onsinnige-moord/

 

 
Back to top button