News

Vrou wat gestremde seun raakgery het, gaan meld aan by polisie

Willem het erge spierbeserings opgedoen en sy enkel is gebreek.

Die vrou met die rooi bakkie wat op 25 Oktober vir Willem Esterhuizen raakgery het toe hy met sy fiets in Verdoornstraat afgery het, het by die polisie gaan aanmeld.

Willem se ma, Patricia Smit, het laat weet dat die polisie haar laat verlede week gekontak het en gesê het dat die vrou daar was.
Hulle het die vrou se verklaring oor die gebeure geneem en vir me. Smit laat weet dat hulle besig is met die ondersoek.

Videomateriaal het later gewys dat Willem op die hoek van Verdoorn- en Vosstraat raakgery is deur ’n bakkie.
Die bestuurder van die bakkie en haar seun het gestop, die bakkie se buffer agterop die bakkie gegooi en Willem se fiets vir hom opgetel.

Willem, wat doof en verstandelik gestremd is, het net ’n paar treë geloop, waarna hy op die sypaadjie gaan sit en later gaan lê het.
Hy het erge spierbeserings opgedoen en sy enkel is gebreek.

• Willem sal ten minste ses weke nie kan karre oppas nie. Sy inkomste help die gesin tans om te oorleef, nadat me. Smit se verloofde, Roelof Jackson, verlede jaar oorlede is. Me. Smit se inkomste alleen kan nie al die uitgawes in die huis dek nie.

• Willem sou Woensdag gegaan het vir ’n besoek aan die audioloog, sodat daar vir hom nuwe gehoorapparate gemaak kan word. Hy sou dit dan in Desember kry.
Me. Smit sê die ongeluk het egter alles omver gegooi, omdat hy sukkel met die krukke, aangesien hy nie baie gebruik het van sy een hand nie en dit hom ook seermaak.

“Ek kry ook niemand wat hom kan vat soontoe nie en ek kan nie meer afvat by die werk nie. Ons moet elke keer vir petrol betaal en ons kan dit eenvoudig nie meer doen nie, want hy het nie meer ’n inkomste nie.”

Lees ook:

Gestremde seun van fiets af gery – bakkie jaag weg

Video wys ongeluk waar rooi bakkie seun op fiets stamp

X-strale wys seun wat van fiets af gery is, se enkel is gebreek

Back to top button