News

Gestremde seun van fiets af gery – bakkie jaag weg

’n Verstandelik gestremde jongman het gisteraand meer as twee ure op ’n sypaadjie in Mineralia gelê, nadat hy tydens ’n tref-en-trap ongeluk van sy fiets af gery is.

Willem Esterhuizen (24) het paniekerig rondgekyk terwyl Michelle Jansen van Vuuren die hele tyd kalmerend met hom gepraat het.

“My kind is doof en verstandelik gestrem en het vandag geweldig pyn. Gelukkig is sy been nie gebreek nie, maar die spiere is geskeur,” het Willem se ma, Patricia, gesê.

Patricia het gisteraand omstreeks 19:30 die Middelburg Observer gebel en gevra of sy kan help, aangesien ’n ambulans nie opgedaag het nie.
Willem het in Verdoornstraat met sy broer, Gert, se fiets gery, toe ’n rooi bakkie hom vanaf Vosstraat getref het.

Daar word gekyk hoe erg Willem se been beseer is.

Na aanleiding van CCTV-videomateriaal van ’n woonstelkompleks ’n entjie verder, kan ’n mens sien hy word omstreeks 17:20 getref deur die bakkie.
Die persoon wat die bakkie bestuur het, stop egter net om die buffer van sy bakkie op te tel en agter op die bakkie te gooi en ry dan weg.

Patricia het minute later van die ongeluk verneem en per Zello vir hulp gevra.

Paramedikuste en lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 maak Willem gemaklik op die draagbaar.

As gevolg van moontlike miskommunikasie, is die Provinsiale Ambulansdienste eers omstreeks 19:35 van die ongeluk verwittig en was hulle binne etlike minute op die toneel.
Dit blyk dat daar wel ’n noodvoertuig opgedaag het en van die paramedikuste Willem se been ondersoek en gespalk het.

Daar is op die toneel gehoor hoe daar gesê is dat protokol eintlik van die eerste noodvoertuig op die toneel verwag om ’n ambulans en in hierdie geval ook die polisie te kontak.

Die Provinsiale Ambulansdienste en polisie het egter eers van die ongeluk verneem toe die Noodgroep Radiogroep Sektor 3-lede kort voor 19:30 besef het dat daar nie gereël is vir die nodige dienste nie en hulle begin rondbel het vir hulp.

By die Middelburg Hospitaal is X-strale geneem en is Patricia meegedeel dat Willem se been gelukkig nie gebreek is nie. Hy moet egter Maandag na die Witbank Hospitaal toe gaan om ’n chirurg te sien.

Willem Esterhuizen soos almal hom ken.

• Vanoggend is ’n soortgelyke rooi bakkie wat Willem raakgery het, in Mineralia opgemerk. Die persoon is gekonfronteer, maar hy het ontken dat dit hy was.

• Patricia vertel dat Willem sedert verlede jaar karre oppas om te help met die uitgawes in die huishouding nadat haar verloofde, Roelof Jackson, aan kanker oorlede is.
“Sy boetie, Gert, is ook baie hartseer omdat sy fiets nou aan stukke gery is.”

CCTV Videomateriaal het gewys dat die persoon wat Willem raakgery het, net gestop, sy bakkie se buffer opgetel, en dadelik weer gery het.

• Patricia, wat self ook lid is van die Noodroep Radiogroep Sektor 3, wil graag die volgende lede bedank wat gehelp het op die toneel: Tienie en Linda Uys, Bernard van den Berg, Juanita Groenewald, Herculaas Taljaard, Willem, Cornelius en Rachel Kies.

Sy sê ook dankie aan die man, Deon (sy het nie sy van nie), wat haar gekontak het na die ongeluk, paramedikus Barend Labuschagné, asook die paramedikuste van die Provinsiale Ambulansdienste en ander paramedikuste wat hulp verleen het en die polisie wat dadelik uitgekom het toe hulle gekontak is.

’n Spesiale woord van dank gaan aan haar bure, Michelle en André Jansen van Vuuren, wat haar na die toneel toe geneem het en Michelle wat Willem die hele tyd kalm gehou het.

Die fiets waarmee Willem gery het, is aan stukke gery tydens die tref-en-trap ongeluk.
Back to top button