News

Familie rasend van bekommernis na vrou verdwyn

Die familie van Anelia Lubbe (44), ’n oud-Middelburger, is rasend van bekommernis, want sy het al op 13 Oktober vanaf die Dominionville dorpie verdwyn.

Wat die gesin bekommer, is dat sy medikasie vir ’n geestestoestand gebruik en hulle nie weet of sy haar medikasie op haar eie reg sal drink nie.
Sy moet ook gereeld bloedoortappings kry.

Vrou wat weg was is gekry

Anelia se ma, Ina Bester, het uit Perth (Australië) gebel en gevra dat mense vir Anelia moet uitkyk. Me. Steyn is tans in Australië, omdat hul eerste agterkleinkind onlangs gebore is. Hulle gaan Woensdag terugvlieg, “sodat ek ook na haar kan soek.”

Anelia se skoonsuster, Bianka (wat in Middelburg woonagtig is) sê hulle het Vrydag vanaf Middelburg na Wolmaransstad en Klerksdorp gependel om te help soek na Anelia.

“Ons het al die motorfietsgemeenskappe laat weet en probeer nou ook mense van trokmaatskappye in die hande kry om uit te kyk vir haar.”

’n Meer onlangse foto van Anelia.

Hulle het by die Hartbeesfontein (Noordwes) polisiestasie wel die polisie in kennis gestel dat hulle na haar soek, maar het op hierdie stadium nog nie ’n saaknommer nie.

Anelia en haar man, Morné Lubbe, bly in Dominionville en hy moes die oggend van 13 Oktober dokter toe gaan, aangesien hy op 6 Oktober omgery is tydens ’n tref-en-trap ongeluk net buite Makwassie. Hy het erge pyn verduur.

Die egpaar het nie selfone of ’n voertuig nie en moet met taxi’s of busse oor die weg kom.

Hy het vroeg die oggend gereed gemaak om kliniek toe te gaan en het Anelia gevra om saam te gaan.
“Sy het haar pille en ’n sakkie gepak en gesê sy gaan nie saam nie.”

Bianka meld dat Anelia sielkundige probleme het en medikasie daarvoor gebruik.

“Sy het vir hom gesê sy gaan Nelspruit of Potchefstroom toe en Morné het probeer om haar te oortuig om nie te gaan nie, maar sy het voet by stuk gehou.”

By die uitdraai het Morné in die rigting van die Hartbeesfontein kliniek gestap en het Anelia weg gedraai in die rigting van die N12.
Veiligheidskameras se videomateriaal, wat by ’n nabye plaas gekry is, het gewys dat sy die oggend om 06:31 begin stap het.

Die familie was nie aanvanklik bekommerd nie, omdat Anelia weens haar toestand al vantevore weg geloop het, maar binne twee dae teruggekom het. Sy het egter nog altyd ’n manier gevind om hulle te laat weet waar sy is.

In die laaste week het mense in Wolmaransstad onder andere laat weet dat hulle haar gesien het.

Die plakkaat wat op sosiale media versprei word, wat aandui dat die familie al vanaf 13 Oktober na Anelia soek.

Van die inligting wat hulle opgevolg het van taxidrywers en haweloses het hulle op ’n dwaalspoor na ’n ander vrou toe gelei, wat nie Anelia was nie.
Dinsdag het die eienares van ’n besigheid in Wolmaransstad gesê sy het wel vir Anelia in die dorp gesien.

“Sy het Anelia herken aan haar haaslippie.”

Volgens die inligting het Anelia in die straat ’n argument gehad met ’n man wat voorgegee het hy is haar man.

Woensdag het twee mans, wat ook in Dominionville bly, haar ’n geleentheid aangebied.
Hulle het vir die familie gesê dat sy oor die pad gehardloop het by die uitdraai om hul aandag te trek.

Sy het vanaf ’n bakkie, wat se enjinkap oopgestaan het, gehardloop gekom. Sy het ’n geleentheid Klerksdorp toe gesoek na die Tshepong Hospitaal toe.
Sy het gesê sy gaan soontoe, want haar man “se heup is afgery in ’n ongeluk.”

“Anelia is ’n survivor en ons glo ons gaan haar lewendig kry,” het Bianka gesê.

Weens haar geesestoestand sal dit dalk vir mense lyk of sy vreemd optree, omdat sy soms met haarself praat.
Haar ma sê sy sal selfs skree op mense as hulle met haar sou baklei.

Sy gebruik ook partykeer ander name

• Anelia het die tipiese litteken op haar lip van iemand wat ’n gesplete verhemelte met geboorte gehad het.

Sy het donker hare, met baie grys hare tussenin en haar twee voorste tande is uit (haar tandkrone het uitgeval).

Op haar maag, weerskante van haar naeltjie, is twee tatoeërmerke van dolfyne.
’n Tatoeërmerk van ’n draak is op haar regterblad.

Sy weeg sowat 70kg en is tussen 1.67 en 1.68m lank.

As enige persoon haar dalk ’n geleentheid aanbied of haar iewers sien, word gevra dat hulle dadelik vir Bianka of Francois moet bel by 068 241 2110 of 068 316 0792.

 
Back to top button