News

Tweede wrede moord op bejaardes

Die onsinnige aanval en moord op Izak Berrangé (81) verlede Woensdagaand, het die Belfast gemeenskap vir die tweede keer in tien jaar geskud.

Die bejaarde mnr. Berrangé is dood geslaan en sy vrou, Marietjie (81) ernstig beseer, toe twee jong mans hulle aangeval het.

“Oom Izak”, soos hy op die dorp bekend was, het in ’n stoel in die kombuis gesterf. Tannie Marietjie, wat die 23ste Oktober 81 jaar oud word, is ook erg aangerand en is die volgende oggend deur hul kleinseun, Sarel, gevind.

Hul dogter, Marietjie, het Maandag gesê dat haar ma met ’n blompot oor die kop geslaan is en dat haar oë “nog potblou is van die aanranding.”
Sy is reeds uit die hospitaal ontslaan en gaan tuis by familie.

“Ons sukkel om te cope oor wat gebeur het en wil op hierdie tydstip net bietjie asemhaal,” het Ina de Wet, tannie Marietjie se ander dogter, gesê.

Oom Izak se roudiens is Saterdag om 11:00 uit die Belfast Hervormde Kerk.

Tannie Elna en oom Rudolph (oom Koffie) van Heerden se lyke is op 9 Januarie 2013 in hul vrieskas gekry.

• Die aanval op die egpaar volg net meer as 10 jaar na die gewelddadige moord op die Van Heerden egpaar, Rudolph (beter bekend as oom Koffie) en Elna.

Die egpaar is in die vroeë oggendure van 9 Januarie 2013 in hul huis in Fitzgeraldstraat op Belfast vermoor en in ’n vrieskas gedruk.
Mnr. Van Heerden is bo op sy vrou in die beknopte vrieskas gevind met een van haar bra’s om sy nek.

Die koord van tannie Elna se japon was steeds om haar nek toe haar dogter Roda haar moes gaan uitken in die lykshuis.

Een van die beskuldigdes in die saak, Bongani Joseph Ncongwane, het in die verhoor gesê dat weens mnr. Van Heerden se grootte hy gesukkel het om in die yskas te pas.
’n Ander beskuldigde, Irvin Brown Nkosi, het mnr. Van Heerden teen sy kop in die yskas geskop, voordat hy die egpaar toegesluit het.

Bongani Joseph Ncongwane sit ook lewenslank vir die Van Heerden moorde. Hy het destyds vir die staat presies vertel wat die nag van die aanval by die Van Heerdens gebeur het.
Irvin Brown Nkosi – lewenslank tronk toe vir die moorde van oom Koffie en tannie Elna van Heerden.
Sibusiso Charles Sibanyoni is ook lewenslank tronk toe gestuur vir sy aandeel in die aanval op oom Koffie en tannie Elna van Heerden.

Die moordenaars het juwele, horlosies, Krugerrande, ’n .22 pistool en ’n .32 Ruby rewolwer en ammunisie gebuit.

Daarna het hulle op die vlug geslaan met die egpaar se Pajero. Die voertuig is later by die Wonderfontein-afrit gekry. In plaas van diesel, het die aanvallers petrol in die voertuig gegooi en dit het gaan staan.

Die derde beskuldigde was Sibusiso Charles Sibanyoni.

Hulle is aldrie in 2015 lewenslank tronk toe gestuur na uitstekende ondersoekwerk deur veral die polisie se Plaaslike Rekordsentrum (PKRS).

• Kolonel Anton Crafford was destyds die bevelvoerder van die Mpumalanga Forensiese Taakspan.
“Ons taakspan is nie dadelik in kennis gestel nie en het die toneel agterna besoek. Ek het ook wel die lykskouings van die twee mensies bygewoon.”

Hy onthou hoe die drie boosdoeners etlike dae later in Mamelodi gevang is na ’n huisroof in Carolina, waar mnr. en me. Phillip en Letitia van der Linde aangeval is.
“In hul besit is die artikels gekry wat uit die moordhuis in Belfast afkomstig was.”

Die voorbladberig oor die aanval op oom Phillipus van der Linde (foto) en sy vrou Letitia. Sy aanvallers was dieselfde boosdoeners wat vir oom Koffie en tannie Elna se dood verantwoordelik was.

Nkosi is in hegtenis geneem tydens ’n skietgeveg met die polisie in Mamelodi, waarin hy mnr. Van Heerden se geweer gebruik het.

• Adv. Erik van der Merwe, die staataanklaer, het voor die drie se vonnigoplegging gesê dat “in plaas van die voorgeskrewe 15 jaar vir huisbraak met opset, moet die hof hulle tot minstens 20 jaar vonnis.”

• Beide Nkosi en Sibanyoni is positief verbind met die Carolina-aanval. Hulle het die gewere wat by die vermoorde Van Heerden-egpaar gesteel is, ná die moorde gebruik by die Carolina-aanval.

Alhoewel hulle aanvanklik ook verhoorafwagtend was vir die Carolina-aanval, het kol. Crafford hierdie week gesê dat die staatsadvokaat en die familie van die Van der Lindes tevrede was dat Nkosi en Sibanyoni lewenslank tronk toe is op die Van Heerdens se saak.

Die Van der Lindes wou nie aangaan met die saak nie, omdat hulle nie verder getraumatiseer wou word met ’n hofsaak nie.

• Belfast het tussen Desember 2012 en April 2013 onder ’n vlaag gewelddadige aanvalle deurgeloop.

• Mnr. Daan Smit en sy gesin is op 16 Desember 2012 in hul huis aangeval. Hy is verskeie kere met ’n moersleutel geslaan, nadat hy die boewe bestorm het.

• Me. Bets Gouws se liggaam is laat Desember 2012 naby die Belfastdam deur haar seun gevind. Sy is deur haar aanvallers doodgeslaan.

• In April 2013 is mnr. Walkie Walkinshaw deur boewe in sy gesig geskiet, toe hy en sy vrou besig was om die Belfields Bakkery te sluit na die dag se werk.

Check Also
Close
 
Back to top button