Man “wat vir almal lief was”, sterf in ongeluk

’n Jong pa van eMalahleni het Saterdagaand in ’n motorongeluk op die Bethalpad gesterf.

Albert van der Merwe (39) is opslag dood in die ongeluk, wat sowat drie kilometer vanaf Pienaardam se uitdraai gebeur het.

Sy suster, Sophia Schoeman, sê hulle het Saterdag by Toe Word ons Dors, waar haar dogter, Zeldine, assistent bestuurder is, saamgekuier.
Zeldine het in die week haar mondigwording gevier en Albert, Sophia en Sophia se seun, JJ, het saam met Zeldine gekuier.

Albert het net na 19:30 gery en die ongeluk het kort daarna plaasgevind.

Volgens Sophia het die pad ’n effense draai gemaak en toe Albert om die draai kom, was daar ’n trok voor hom. Die trok het wel beweeg, maar hulle vermoed hy het stadig gery en Albert het onder die trok ingery.

Sophia het haar broer beskryf as “’n mens vol liefde. Hy was lief vir sy kind, sy familie en sy werk.”

Albert was ’n tegniese bestuurder by die GIC Maatskappy.

Hy word oorleef deur sy seuntjie, Connor (11), ma Magda Smith, pa Cassie van der Merwe, suster Sophia en ouma, Hendriena van der Westhuizen.

Die begrafnis is more (Vrydag) om 11:00 uit die NG Kerk, Witbank Suid gemeente (eMalahleni).

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version