Doodgeslaan, poniestert afgesny maar moordenaars nooit aangekeer

Twee moordenaars loop steeds vry rond, al is hulle op ’n gruvideo geïdentifiseer.

Die moordondersoek na die dood van mnr. Louie van der Ahee, wat Sondag, 11 September 2022, in sy Hermansdal-landgoed kamer aangeval is, sloer al maande weens die eMalahleni polisie se onvermoë om die verdagtes te identifiseer.

Mnr. Van der Ahee is drie dae na die bloedstollende aanranding in sy huurkamer dood, nadat ’n stuk van sy skedel verwyder moes word om druk op sy brein te verlig. Hy het die Sondagaand gaan inkruip maar is kort hierna deur twee mans in sy bed aangeval.

Beide sy aanvallers was aan hom bekend, en hy het beide op ’n video na die aanranding aan sy werknemer geïdentifiseer.

Een van sy aanvallers is die broer van ’n werknemer van die landgoed, wat self ’n ruk daar gebly het. Hy het intussen getrek.

Die tweede man, wat op die video as “Brian” geïdentifiseer is, is aan die koerant bekend en het al vantevore verskeie kere met die gereg gebots.

Brigadier Selvy Mohlala sê dat bewerings wat gemaak is bloot “hoorsê” is.

Lees ook:

Slagoffer sê op video wie het hom doodgeslaan

Die polisie het nooit ’n verklaring by mnr. Van der Ahee geneem nie, en beweer dat hy nie mediese behandeling na die aanranding gesoek het nie.

Mnr. Van der Ahee het egter eers vir geld gewag voordat hy die dokter en tandarts kon besoek, nadat hy die volgende dag sy voortande op die vloer in sy kamer gaan optel het.

Hy het die Sondagnag in sy bakkie in Middelburg geskuil, voordat hy Maandag terug is na die landgoed toe, waar die makabere video van sy tande op ’n spieëlkas gemaak is. Op dié video het hy ook uitgewys waar een van sy aanvallers woonagtig was.

Hy het die Woensdag na die aanval sleg gevoel en by Pieta’s Pub oorkant Hermansdal gestop vir water. Daar het hy inmekaar gesak waarna hy hospitaal toe gehaas is. Hy het nooit sy bewussyn herwin nie. Sy dood is as “onnatuurlik” bestempel en ’n moorddossier is geopen.

Die koerant het egter met ’n getuie na die aanval gesels wat beweer dat die aanranders hard gedurende die dag gedrink het.

Hulle het bevestig die mans is na sy kamer, ten spyte van protes, waarna hulle terug gekeer het met mnr. Van der Ahee se poniestert, wat op die tafel tussen die drankbottels neergegooi is.

Die getuie sê dat hulle later ook bloed van ’n stoel waarop een van die aanvallers gesit het, moes afwas en bloed aan sy klere opgemerk.

Mnr. Van der Ahee se twee seuns is gesiene sakemanne in Middelburg. Hulle wou geen kommentaar lewer nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version