News

Wie skiet in die nagtelike ure?

Inwoners in Kanonkop en Dennesig word gereeld in die nag wakker gemaak met skote wat klap.

Maar wie skiet so?

• Mnr. Jacob (Tiny) Louw (voorsitter, Sektor 4 Radiogroep) sê hulle het al ondersoek ingestel en kon niemand kry nie.
Hulle het egter verneem dat daar soms boere is wat in die nag bosvarke jag as die diere skade in die lande aanrig.

“As iemand byvoorbeeld in die Keerom omgewing in die nag met ’n swaar kaliber wapen skiet, sál dit klink of daar in Dennesig geskiet word, want klank trek ver in die nag.

• Mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) sê hulle weet van ten minste twee voorvalle in die laaste maand waar iemand waarskuwingskote gevuur het in die Springbokstraat (Kanonkop) omgewing.

Lees ook:

Oor en weer skietery klink soos klein oorloggie

“Die waarskuwingskote was na aanleiding van boewe wat omstreeks 01:00 vanaf die bosse tussen Springbokstraat en die Stoffbergpad oor die pad gesluip het vir misdaad bedrywighede.”

Hy sê dat die bosse en bome op dié eiland tussen die Stoffberpad en Springbokstraat ’n groot probleem geword het.

“As ons in die nagte patrollies ry, kry ons gereeld verdagtes wat daar skuil. Ons kan nie beweging in die bosse sien, maar ons kan nie alleen daar ingaan nie, omdat hulle moontlik gewapen kan wees.”

Mnr. Hill het gesê hulle beplan om hande te vat met die inwoners van Kanonkop om die bosse en bome netjies terug te sny, sodat booswigte nie daar kan skuil of hul buit kan wegsteek nie.

Hy sê die plan is om die skoonmaak-aksie met toestemming van die munisipaliteit te doen.

“Ons glo ons sal so teen die einde van April, begin Mei, met skoonmaak kan begin.”

Mnr. Hill het aangedui dat hy van sy eie werkers sal bring om met die skoonmaak te help.
Persone wat die skoonmaakprojek wil ondersteun, kan hom bel by 083 870 9693.

• Sowat ’n maand gelede het mnr. Hill kort na 21:00 een aand jong mans en ’n vrou langs die Klein Olifantsrivier gekry wat ’n splinternuwe gaspistool by hulle gehad het.
Die gaspistool lyk soos ’n 9mm en het die plofkrag (en geluid) wat ’n 9mm maak, maar skiet net gas- en fopkoeëls.

Lees ook:

Vir tweede aand klap daar skote in die nag

Alhoewel hulle ontken het dat hulle die wapen afgevuur het, het mense wat naby die Klein Olifants bly, skote gehoor wat geklink het soos ’n handwapen.

• Daar is ook navraag gedoen by mnr. Joe van Rooyen (Gemeenskapspolisiëringsforum Sektor 4), wat noem dat hulle nie klagtes van hul lede gekry het nie.

• Marnus Uys (Noodroep Radiogroep Sektor 3) sê daar is nie probleme in hul sektore nie. “Ons het verneem dat dit net in Kanonkop en Dennesig is waar mense die skote hoor. Hier by ons is dit stil.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button