Pastoor Renier Pelser, die sekretaris generaal (administratiewe hoof) van die Volle Evangelie Kerk, sê vandat die diewe met die kar weg is, was die opsporsingsein binne agt minute ook weg.
Past. Pelser, wat vir jare leraar was by die Kruisgenerasie Volle Evangelie Kerk in Middelburg, vertel dat hy en sy vrou, Ronel, gou by ’n winkel gestop het op die ou Johannesburgpad.
Die opsporingstelsel het aangedui dat hulle om 17:04 uit die kar geklim het. Om 17:08 was die diewe met die voertuig weg.
“Die sekuriteit het nie eers onraad vermoed nie, want hulle het net ingeklim en gery.”
Volgens past. Pelser het die opsporingsmaatskappy gesê dat daar ’n sindikaat is wat so vinnig die voertuie steel.
“Hulle loop agter jou aan met ’n skootrekenaar en laai al jou inligting af van die sluitstelsel wat deel vorm van die sleutel. Hulle kan op ’n afstand van tot 20m ver dit doen. Daarna stap hulle net uit, maak die kar oop en ry weg.”
Past. Pelser meld dat hy op BusinessTech (die grootste besigheidsnuus webtuiste in Suid-Afrika) gelees het dat kardiefstalle in Gauteng met 63% in Februarie toegeneem het.
“Ons voertuig is een van die hoë risiko karre. Daar word voorgestel dat jy jou sleutel nou in iets spesifiek moet sit by jou, sodat jou inligting nie afgelaai kan word nie.”
Dié tipe voertuie sluit nie soos ander voertuie met ’n sleutel nie. Die sleutelstelsel word net by jou gehou en as jy by jou voertuig kom, met die sleutel by jou, maak jy net die deur oop. Die sleutel word ook nie in die aansitter gesit nie, ’n mens druk net die knoppie en dan skakel die voertuig aan.
Hy noem dat almal wat karre koop, weet dat jy deesdae nie meer ’n voertuig kan koop sonder dat dit toegerus is met ’n opsporingstelsel nie. “Die diewe weet egter presies watter draadjie om te knip.”
Past. Pelser is verontrief omdat sy beursie, met al sy kaarte, waaronder bank- en ID en bestuurskaarte, in die voertuig was, wat gesteel is.
Al die ongerief ten spyt, sê past. Pelser dat “die Here vir ons goed was. Ons was nie in die voertuig toe dit gevat is nie. Ons kon gekaap gewees het. Ek glo egter altyd in die Woord wat sê: ‘oorwin die kwaad met goed.”
• Die egpaar het die Fortuner in Augustus 2021 gekoop en die voertuig het nog net 24 000 kilometer op gehad.
Dit is ’n wit Fortuner, registrasienommer KJR 704 MP.
• Daar is Maandag ook ingebreek by die Volle Evangelie Kerk se kantore in Irene, Centurion, waar onder andere ’n rekenaar gesteel is.