Verjaag bye met doef-doef musiek

Inwoners en ook leerlinge is die afgelope tyd deur bye wat nuwe blyplek soek, geklits.

Byeboer Martin Nel sê hy is sedert die begin van die somerseisoen al besig, maar nou raak dinge báie besig met die draai van die seisoen na herfs toe, wanneer bye intrekplekke soek.

Verlede week het bye toegesak op ’n man terwyl hy gras gesny het in Duikerstraat.

Mnr. Nel sê met sy aankoms by die huis, het iemand reeds as voorkomende maatreël ’n ambulans gebel.

“Die paramedikuste het na hom gekyk, maar gelukkig het hy niks oorgekom nie.”

Teen Donderdag het hy die aand ’n swerm bye uit die oorhang van die Gereformeerde Kerk, Moedergemeente, se dak gehaal.

Laerskool Middelburg en die kerk het ’n ooreenkoms dat ouers van die skool ’n gedeelte van die kerk se parkering gebruik om kinders op en af te laai.

’n Paar van die bye in die dak het ’n ’n handjievol van die kinders gesteek en die hoof, mnr. Gerrie van der Merwe, het met die toestemming van die kerk, mnr. Nel gekontak om die bye te verwyder.

Mnr. Nel sê dat die bye nou nes wil maak en dat hulle veral lief is om in buitebande onder asblikke in te trek.
Hulle kies ook enige bokse en kaste waar hulle deur ’n gaatjie kan kruip.

Hy stel voor dat wanneer mense sien dat bye wil intrek, hulle voorkomend “Jeyes Fluid” in die gat kan spuit. Die reuk sal hulle afsit en sal hulle nie verder intrek nie.

Bye wat nes wil maak op ’n plek waar hulle nie welkom is nie, kan ook verjaag word deur harde “doef-doef” musiek naby hulle te speel.
Gevestigde bye sal egter nie vir dié truuk val nie en dalk net aggressief raak.

Hy waarsku dat bye in ’n nes waar daar reeds eiers en kleintjies is, veral as dit baie warm is, krapperig kan raak as honde naby die nes blaf of as iemand grassny. Hulle is dan geneig om aan te val.

“Moet ook onder geen omstandighede probeer om bye met Doom te spuit nie, want dan gáán jy moeilikheid kry.”

Mnr. Nel is bereid om lastige bye uit te haal en hang die fooi af van hoe moeilik dit is om die bye te verwyder. “Soms moet ek ’n hele nag werk om hulle uit te kry.”

Hy haal net in die nag bye uit en sê dat die reën die afgelope tyd dit moeilik gemaak het om bye te verwyder.

•Persone wat van sy dienste gebruik wil maak om bye te verwyder, kan hom bel by 083 655 0179.

Exit mobile version