News

Dwelm-euwel buite beheer

Die dwelm-euwel is buite beheer in ons dorp en lag dwelmverslaafdes vir die gereg en inwoners, want hulle word toegelaat om te maak net wat hulle wil.

’n Verslaafde is hierdie week in ’n huis in Gholfsig betrap waar meer as R1.9 miljoen se skade aangerig is.

Hy is nie gearresteer nie, want die polisie het gesê die eienaar, ’n bejaarde wat nie meer in Middelburg woonagtig is nie, moet self ’n klagte gaan lê!

Vanoggend het twee dwelmverslaafdes voor die oë van sakemanne en kliënte in Cowen Ntulistraat rustig hulself gesit en spuit.

Mnr. Henning Benadie (van Deltec Middelburg), wat al meer as ’n jaar sukkel met dwelmverslaafdes voor in die straat, het genoeg gehad en na hulle toe geloop.

“Toe ek hom op video begin afneem, toe sê hy ewe vir my as ek sy gesig op sosiale media sit, sal hy my dagvaar en sal ek die res van my lewe vir sy dwelms betaal! Hy het ook gesê dit is die munisipaliteit se sypaadjie!” het mnr. Benadie woedend gesê.

Op die foto’s en videos wat hy geneem het, kon ’n mens duidelik ’n pakkie met poeier voor hom sien lê.

“Ek het gesien hoe hy die poeier vat, dit meng met ’n vloeistof en daarna in sy arm inspuit. Ek was so naby dat ek die bloed kon sien wat uitgekom het nadat hy die naald uitgetrek het!”

Langs die uitdagende verslaafde, het ’n ander jongman kop onderstebo gesit, met ook dwelms by hom.

“Die een met die blou klere het seker 1 000 inspuitingmerke op sy arms!”

Die man het ook voor sakelui en kliënte dwelms gebruik. Op sy arms is letterlik hordes gaatjies sigbaar waar hy dwelms ingespuit het.

Mnr. Benadie sê hy en die ander besighede om hom is keelvol vir die probleem.

“Ons en ons kliënte moet elke dag daarin vaskyk. Gebruik hulle nie dwelms nie, dan urineer hulle voor almal! Ek gaan hulle aanhou pla tot hulle geepad, want die owerhede doen niks daaraan nie.”

Hy raak vies as mense vir die verslaafdes geld gee by die verkeersligte om die dwelmprobleem te voed.

“Daar word baie gevra dat mens hulle moet help. Ek kan hom ook nie help om vir hom werk te gee nie, want dan steel hy my goed vir sy verslawing!”

Mnr. Benadie het genoem dat hulle al talle kere die munisipaliteit gebel het oor die probleem.

“Die munisipale polisie was één keer hier en ek het gestaan en kyk hoe hulle die dwelms en naalde met ’n klip stukkend slaan, maar hulle het die dwelmverslaafdes net daar gelos. Volgens die munisipale polisie het een van die sakemanne klaarblyklik toestemming gegee dat hulle voor sy besigheid en op die sypaadjie kan bly!”

Nadat die munisipale polisie die dwelms vernietig het, het die dwelmverslaafdes, wat op daardie stadium daar was, geepad.

“Nou is daar net ’n nuwe groep wat hul plek ingeneem het en daagliks sit en spuit en urineer!”

•Die klagte en foto’s is deurgestuur aan die munisipaliteit se mediakantoor, wat beloof het hulle sal dit deurgee vir die toepaslike departement.

Back to top button