News

Lodge plaas verklaring op Facebook rakende bewerings

Die Henbase Lodge het ’n persverklaring uitgereik oor skokbewerings wat gemaak word in nuus- en sosiale media.

Willem Kruger se oorskot is op 20 November in sy bakkie in die Vaalrivier gekry nadat hy net meer as ’n week vantevore by ’n rampartytjie van sy vriend, Ghini Greyling, was.

Die lodge het in hul verklaring gemeld dat hulle inderdaad nie gereageer het op vrae wat ’n ene mnr. Pieter Steyn aan hulle gestuur het nie, “aangesien ons ons volle samewerking aan die polisie lewer met betrekking tot hul ondersoek.”

Hulle sê voorts dat hulle nie op alle aantygings kan reageer op “ongestaafde bewerings” nie.

“Op die tydstip wat die bakkie uitgesleep is, was die SAPD en verskeie ander rolspelers op die toneel en is daar slegs hulp aangebied, nadat die relevante owerhede ons versoek het om ons trekker vir die doel te gebruik.”

Willem Kruger se bakkie nadat dit uit die Vaalrivier langs die Henbase Lodge uitgetrek is.

Die res van die verklaring lui as volg:

• Henbase Lodge bly verbind tot eerlikheid en deursigtigheid en sal op geen tydstip betrokke wees by enige toesmeerdery of omkopery nie, en kan ongelukkig nie op sensasionele beriggewing reageer nie.

• Daar is simpatie met die familie van Willem Kruger met sy afsterwe, en as sulks bly ons verbind tot die waarheid en sal op alle vrae van die nodige, relevante gesagstrukture antwoord, en verklarings lewer sover nodig.

• Dit bly tragies dat die voorval by ons lodge plaasgevind het, maar kan ons die versekering gee, soos berig, dat ons, ons volle samewerking aan die SAPD se ondersoekspan sal gee.

• Die lodge sal steeds, soos in die verlede, op ’n eerbare wyse en in beste belang van alle gaste ons besigheid bedryf en sal op geen individuele kommentare, sensasionele berigte of media versoeke reageer nie, aangesien ons glo dat die SAPD die nodige ondersoeke doen en as sulks gee ons, ons volle samewerking in die verband.

Back to top button