Geen vordering met ondesoek na dood by Hermansdal

Die polisie erken egter dat die ondersoek gestol het weens ’n agterstand van nadoodse ondersoekverslae.

Die polisie sê dat daar nog geen arrestasies gemaak kon word na die dood van mnr. Louie van der Ahee nie, omdat daar ’n groot agterstand is met die vrystelling van nadoodse ondersoekverslae deur die gesondheidsdepartement.

Mnr. Van der Ahee is op 14 September in die eMalahleni Hospitaal oorlede, nadat hy op Sondag, 11 September, in sy kamer by die Hermansdal Landgoed deur twee mand bekend aan hom, aangerand is.

Mnr. Van der Ahee se voortande is in die aanval uitgeslaan en sy poniestert met ’n steakmes afgesny.

Die beweerde aanranders het na die voorval sy poniestert soos ’n trofee aan ander inwoners van die landgoed gewys.

Mnr. Van der Ahee het kort na die aanranding ’n WhatsApp video gemaak waarin hy die twee mans wat betrokke was geïdentifiseer het.

Hy was die pa van bekende sakemanne op die dorp.

Mnr. Van der Ahee het in mekaar gesak by ’n kroeg oorkant die landgoed waar hy gestop het vir water.

Getuies sê hy het begin opbring en kort hierna sy bewussyn verloor.

Hy is hospitaal toe gehaas waar die drukking op sy brein verlig moes word.

Hy het egter nooit uit die gevolglike koma ontwaak nie.

Die polisie is bewus wie mnr. Van der Ahee van die aanradning op hom beskuldig het.

Een van die mans het op die landgoed by ’n familielid gebly.

Die aanvallers was glo erg besope tydens die voorval.

Die polisie erken egter dat die ondersoek gestol het weens ’n agterstand van nadoodse ondersoekverslae.

Die dossier sal na die verslag ontvang is, gestuur word vir beslissing of ’n moordklag teen die aanvallers ingestel sal word.

•Die koerant het indringende vrae aan die departement gestuur vir antwoorde.

Teen druktyd is daar net bevestig dat daar wel ’n agterstand is, maar geen redes is hiervoor verskaf nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version