News

Man verdwyn spoorloos, drie verdagtes in sy voertuig gesien

Mnr. Stoltz is om 03:00 vanmore laas deur sy vrou Jo-Ann gesien.

Mnr. Gawie Stoltz het vanoggend spoorloos op pad werk toe verdwyn.

Mnr. Stoltz is om 03:00 vanmore laas deur sy vrou Jo-Ann gesien.

Sy voertuig, ’n ligblou metaalkleurige Mazda 3, is om 09:40 by die Panarottis ingang van die Middelburg Mall deur CCTV kameras opgetel.

’n Man en twee vroue is in die voertuig gewaar.

Die man, twee vroue en mnr. Stoltz se voertuig is die laaste keer by die Burger King uitgang van die mall deur ooggetuies gesien.

Mnr. Stoltz is egter nie op enige kameras by die mall opgemerk nie, wat die vermoede laat dat hy moontlik op pad werk toe gekaap, of selfs tuis oorval is.

Dieselfde man en twee vroue is ook op CCTV kameras in die mall opgeneem waar hulle mnr. Stoltz se bankkaart by Dis-Chem en Chicken Licken gebruik het rondom 09:20.

Sy suster Joni Berg sê dat sy huissleutels na sy verdwyning in die huis se agterdeur gekry is.

“Dis vir ons geweldig vreemd dat hy nie sy sleutels by hom het nie,” sê me. Berg.

Mnr. Stoltz is die veiligheidsbeampte van R&F Tissue Mills.

Sy familie is geskakel nadat hy nie by die werk aangemeld het nie.

Toe bank SMS’se op me. Stoltz se foon begin deurkom het, het sy dadelik na haar man gaan soek.

“Wat tans deur ons gedagtes gaan is onbeskryflik, ons wil net weet hy’s veilig,” sê Joni.

Mnr. Stoltz se selfoon slaan ook dadelik na stemposboodskappe oor.

“Die polisie is van mening dat dit te vroeg is om hom as vermis aan te meld,” sê Joni.

Die polisie wil ook nie huidiglik die beeldmateriaal van die verdagtes bekendmaak nie.

“Ons het nie toegang tot die beelmateriaal of foto’s van die verdagtes nie omdat die bewyse net aan die polisie oorhandig mag word”.

Brigadier Selvy Mohlala sê dis loutere bog dat dit te vroeg is om mnr. Stoltz as vermis aan te meld, en het die familie bygestaan om ’n vermiste persoon saak te open.

Hy het verder onderneem om gesigsamestellings van die verdagtes vry te stel sodra die polisie ontvangs daarvan geneem het.

Indien enige iemand mnr. Stoltz of sy voertuig, met registrasie JBH708MP gewaar, word hulle versoek om dadelik die naaste polisiestasie te skakel.

Mnr. Ismail Jooma kan ook gekontak word by 082 472 1602 met inligting.

 
Back to top button