News

Motorfietsdiewe steel drie motorfietse in een nag

Wees waaksaam! Motorfietsdiewe het hierdie week drie motorfietse in een nag gesteel.

By ’n huis in Kogelstraat is twee motorfietse gesteel en by ’n ander in Komatistraat is ’n motorfiets en twee duur bergfietse gesteel.

•’n Omgekrapte mnr. Thys Brits sê die motorfietse is gesteel terwyl hulle met vakansie was.

Boonop het hy sy Kawasaki motorfiets verlede Vrydag gekoop net voor hulle met vakansie vertrek het!

Hy is Woensdagoggend laat weet dat beide motorfietse gesteel is. Daar is ook by die huis ingebreek en huisware gesteel.

Mnr. Brits sê hulle het in Juliemaand vir sy seun ’n motorfiets gekoop vir sy verjaardag. Dit is ’n Sym NHX 125cc.

Die Sym NHX 125cc motorfiets wat saam met die Kawasaki in Kogelstraat gesteel is.

Hy het R180 000 vir sy Kawasaki ZX10R, registrasienommer KPH064MP, betaal.

Die Kawasaki van die kant af gesien.

Mnr. Brits het mnr. Anthony Boucher (SA Investigations & Security) gevra om die saak vir hom te ondersoek en indien iemand die motorfietse opmerk, kan hulle mnr. Boucher bel 064 534 5853 of mnr. Brits by 081 337 9234.

•Dieselfde nag is klein Christiaan Bellingan (9) se 65cc Husqvarna veldmotorfiets gesteel, waarmee hy professioneel vir Forever Racing aan Motorcross byeenkomste deelneem.

Die 65cc Husqvarna veldmotorfiets wat gesteel is in Komatistraat (Groenkol).

Sy pa, Renier, vertel dat hy gister kort na 04:00 opgestaan het om hul twee spanjoel hondjies, wat in die huis slaap, na buite te neem.

Terug in die kamer het die reuntjie skielik gegrom en hy het na die beeldmateriaal op sy selfoon gekyk.

Hy het gesien hoe die booswigte die motorfietse by die hek, wat van die spoor afgehaal is, uitstoot en hy het na buite gestorm.

“Een van hulle was nog in die erf, maar ek was aan die anderkant en hy het vinnig uitgehardloop toe hy my sien.”

Wat hom dronkslaan, is dat sy pit bulterriërteef nie geblaf het of hulle gebyt het nie.

“Hulle het haar na agter gelok en agter ’n hek toegemaak. Sy blaf gewoonlik vir alles.”
Dit laat hom vermoed dat die hond óf die mense geken het wat die motorfiets gesteel het, óf hulle haar geleidelik aan hulle gewoond gemaak het. “Dit is asof sy hulle geken het.”

Die booswigte het nie net sy seun se motorfiets gesteel nie, maar ook sy en sy vrou, Madeleen, se bergfietse.

Die twee bergfietse wat ook gesteel is in Komatistraat.

Mnr. Bellingan meld dat hy vir sy seun se motorfiets met al sy modifikasies R180 000 betaal het.

Die twee bergfietse is onderskeidelik R60 000 en R30 000 werd.

Nadat hy die CCTV videomateriaal nagegaan het, het mnr. Bellingan gesien dat daar ses booswigte in sy erf was.

Twee het die motorfiets uitgedra en die ander vier het die twee bergfietse gesteel.

Die oomblik toe hulle by die hek uitgaan, het ’n wit, 1993 model Toyota Hilux bakkie by hulle gestop en hulle het die motorfiets en fietse daarop gelaai.

Die wit 1993 Toyota Hilux bakkie wat die motorfiets en twee bergfietse gelaai het.

•Christiaan se motorfiets het ’n goue tenk.
“Hulle sal nie die goud afkry, sonder om die tenk te beskadig nie.”

•Christiaan ry al drie jaar motorcross, waarvan die laaste jaar professioneel.

Christiaan Bellingan het professioneel Motorcross gery met die motorfiets.

Back to top button