Bekende inwoner dood na bloestollende aanranding op spoglandgoed

Die polisie ondersoek ’n saak van moord nadat mnr. Louie van der Ahee, Sondagaand in sy kamer op Hermansdal Landgoed deur twee mans in sy kamer oorval en aangerand is. Hy is die pa van ’n bekende Middelburg sakefamilie.

Mnr. Van der Ahee se poniestert is na bewering in die aanval met ’n mes afgesny, terwyl die mans hom in die kamer geslaan en geskop het.
Hy het van die landgoed af gevlug en ’n kollega van hom, Eugene Opperman, Sondag omstreeks 21:00 geskakel en vertel van die gebeure.

Verskeie van mnr. Van der Ahee se tande is in die aanval uitgeslaan.

Hy is Maandag dokter en tandarts toe vir behandeling, en moes Dinsdag terug dorp toe om sy voorskrif in te dien, toe hy by Pieta’s Pub gestop het vir ’n glas water, “omdat hy skielik nie lekker gevoel het nie”.

By die kroeg het mnr. Van der Ahee skielik begin opgooi en bleek geraak, waarna die kroegdame mnr. Opperman geskakel het.

Terwyl mnr. Opperman nog met hom op die foon was het mnr. Van der Ahee sy bewussyn verloor en is daar met hom hospitaal toe gejaag.
By die hospitaal moes sy skedel oopgesny word om die drukking op sy brein te verlig.

Sy twee seuns, HJ en Michael, was aan hul pa se sy tot sy afsterwe omstreeks 22:00 Woensdagaand.

Volgens mnr. Opperman is die broer van ’n werker, van die landgoed, vroeër vandag gearresteer.
Sy identiteit word weerhou tot hy formeel aangekla is.

Die polisie is intussen op soek na nog ’n verdagte, genaamd Brian, wat ook na bewering in die aanval betrokke was.

Mnr. Opperman sê dat bewerings oor moontlike ontug tussen personeel van die landgoed moontlik tot die aanval gelei het.

Mnr. Van der Ahee is glo sowat vyf weke gelede deur die broers verkla nadat hy na bewering ’n geweer op hulle gerig het.
Mnr. Van der Ahee het dit egter ontken.

Hy het wel wapens by hom gehad op die landgoed.

Mnr. Van der Ahee is glo tydens die aanval gewaarsku om nie ’n teenklag te gaan lê nie, omdat sy aanvallers “kontakte in die polisie het”.

Mnr. Opperman sê die aanval was uit die bloute, omdat daar na die bewerings van die rig van die vuurwapen, vrede tussen die partye gemaak is.
Daar is glo selfs aangebied dat die broers die klagtes sou terugtrek.

Die “Brian” waarna die polisie op soek is, woon nie op die landgoed nie, maar is al daar opgemerk.

Mnr. Van der Ahee se seun, HJ, wou nie kommentaar lewer nie en sê die polisie-ondersoek moet sy gang gaan.

Mnr. Van der Ahee en mnr. Opperman werk beide in die mynbedryf met langtermyn verblyf op Hermandsal, waar die broer van mnr. Van der Ahee se beweerde aanvaller ’n permanente inwoner en werknemer is.

Die aanval was so gewelddadig dat daar nog vandag bloed in die kamer was, het www.mobserver.co.za verneem.

Die eienaars van Hermansdal kon nie bereik word vir kommentaar nie. Hulle landlyn het aanhoudend gelui, sonder om beantwoord te word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version