News

Parkeraad maak gereed om seekoeie te skuif

“Middelburg se seekoeie” sal binnekort geskuif word na ’n plek van veiligheid, nadat mnr. Piet Wassenaar, in samewerking met die Mpumalanga Parkeraad, dit reg gekry het om die koei en bul met ’n elektriese omheining in te kamp.

Mnr. Wassenaar het aan www.mobserver.co.za gesê dat die seekoeie vir die laaste twee weke ingekamp is by ’n plaasdam in die Zaaihoek omgewing.
’n Boma is binne die omheining opgerig, waar die seekoeie saans gevoer word.

Mnr. Wassenaar glo die seekoeie kan nog hierdie week gevang word deur die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap.
Hyself besoek die seekoeie twee keer ’n dag en plaas voer binne die boma om hulle saans in te lok.

Die boma waar voer geplaas word om hulle in te lok. Wanneer alle reëlings gereed is, sal die valdeur gesluit word om die seekoeie veilig te skuif na ’n ander area.

“Die seekoeie sal dadelik gevang word nadat hulle by die boma ingelok is, om te keer dat hulle die boma beskadig en hulleself in die proses beseer.”

Die elektriese omheining is sterk, maar die seekoeie kan steeds die heining breek as hulle paniekerig raak. Daarom moet alle rolspelers gereed wees wanneer hulle in die boma is.

Mnr. Wassenaar sê dat die seekoeie tans rustig in die plaasdam kuier.

“Die plan is dat hulle na Loskopdam toe verskuif word of na ’n privaat natuurreservaat. Ek het nogal lief geraak vir hulle en gaan na hulle verlang as hulle eers geskuif word.”

Back to top button