Vrou 15 jaar tronk toe, na bedrog en geldwassery

Ebersohn is kort na haar vonnis selle toe.

Linda Ebersohn, wat in 2018 saam met haar man Frans, en seuns Stefan en Francois, op meer as 800 klagtes van bedrog en geldwassery gearresteer is, is kort gelede 15-jaar gevangenisstraf opgelê. Sy het bykans R13 miljoen oor sowat ’n dekade by Middelburg Dakkappe, waar sy gewerk het, gesteel.

Ebersohn is deur landdros Hans Combrink gevonnis, op grond van ’n pleitooreenkoms wat met die staat aangegaan is.

Volgens die ooreenkoms is klagtes teen haar man, Frans, teruggetrek, terwyl hul seuns ook op grond van die ooreenkoms kwytgeskeld is.

Ebersohn het van die opbrengste in haar gesin se rekeninge oorgeplaas.

Die misdrywe is van 2008 tot 2017 gepleeg. In daardie tydperk het een seun R1 367 753 van sy ma ontvang in 374 transaksies en die ander R1 134 961 in 365 transaksies.

Daar is geen spoor van die geld nie en daar was tot dusver nog geen poging deur die Ebersohns aangewend om enige terugbetalings aan mnr. Peter van Noord, eienaar van Middelburg Dakkappe, wat intussen aan kanker oorlede is, se gesin te maak nie.

Mnr. Peter van Noord by Kolonel Hanlie Coetzer van die Valke.

Ebersohn se man, Frans, was saam met haar in die beskuldigdebank toe sy gevonnis is, terwyl hulle seuns met strak gesigte agter in die openbare gallery plek ingeneem het.

Ebersohn is kort na haar vonnis selle toe.

In ’n ongewone wending, het advokaat Ansie Venter, namens die staat die hof op aandrang van die Van Noord familie toegespreek.

Sy het op rekord geplaas dat die familie nou nog slapelose nagte het oor Ebersohn se dade, veral in die lig dat sy so lank vir hulle gewerk het.

Mnr. Van Noord is kort voordat die bedrog oopgevlek is, met kanker gediagnoseer.

Hy het van die eerste hofverrigtinge in ’n rolstoel met ’n suurstofmasjien bygewoon.

Me. Venter het gesê dat mnr. Van Noord graag die hofverrigtinge tot voltrekking sou wou deursien, maar dat dié kans hom ontneem is.

Me. Magda van Noord by advokaat Ansie Venter.

Mnr. Van Noord se weduwee, Magda, wat sedertdien Kaap toe verhuis het, is deur kinders en kleinkinders by die hof bygestaan.

Sy het advokaat Venter buite die hofsaal bedank vir die sukses met die saak en gesê dat sy nou kan begin om die onsmaaklike hoofstuk af te sluit.

Advokaat Venter het haar gerus gestel dat “oom Peter beslis vanuit die hemel die verrigtinge dopgehou het,” en genoem dat sy “tevrede is dat ek my belofte aan oom Peter vir ’n suksesvolle vervolging, gestand gedoen het”.

Advokaat Venter is Maandag ook hoofaanklaer in die Harry Knoesen terrorisme verhoor, wanneer hy gevonnis sal word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version