Dogter met hart wat in keel klop na lykshuis

Met haar hart wat in haar keel klop het René Kriel na die lykshuis gery.

René se pa, Dunee Conrad Pretorius (nou 48), het agt jaar gelede spoorloos verdwyn.
Hy was op daardie stadium ’n totale dwelmverslaafde.

“Familie het hom die laaste keer in Indwe in die Port Elizabeth omgewing gesien. Daarna het ek nooit weer van my pa gehoor nie.”

Nadat sy gister op www.mobserver.co.za gelees het dat me. Ansie Bosman na haar seun soek en dat ’n lyk ongeïdentifiseer is by die lykshuis in eMalahleni, het sy my gekontak.

In die dae voordat hy begin dwelms gebruik het.

“My pa is vermis en is ook ’n dwelmverslaafde. Julle weet nie dalk hoe kan ek in kontak kom met die regte mense om te kyk of dit my Pa is wat in die lykshuis lê nie?” het René gevra.

Haar pa was nie van jongs af ’n verslaafde nie.

“Hy en my ma was gelukkig getroud. Dinge het verander nadat sy ma dood is.”

Hulle het eMalahleni toe getrek en sy het as klein dogtertjie begin agterkom daar “is fout met my pa.”

Haar sussie is in 2003 gebore en sowat drie jaar later is haar ouers geskei “omdat die dwelms my pa verander het.”

Sy onthou hoe sy as klein dogtertjie die gloeilampglas gekry het waarop hy iets gesmelt het. Sy het eers later, toe sy meer kon verstaan, besef dit is gebruik vir die heroïne.

Die uitgesnyde fototjie wat René Kriel van haar pa bewaar.

Al was haar ouers geskei, het sy en haar ma tog vir haar pa gaan kuier toe hy vir diefstal gevang en opgesluit was in Paxton op Witbank.

Met hul kuiertjies daar was haar pa weer sy ou self en het hy selfs vroeër uitgekom weens goeie gedrag. Hy is egter later weer toegesluit vir diefstal.

Nadat hy weer uit die tronk gekom het, het hy by familie op Indwe gaan kuier, maar daar was ’n argument tussen hulle en is hy weer strate toe.
Hy het nog een of twee keer gebel en hulle besoek, maar daarna net verdwyn.

“My pa was nie ’n slegte man nie. Hy het so hard vir ons gewerk voor hy op dwelms was. Hy was ’n goeie mens.”

Nadat hy ’n geruime tyd weg was, het haar ma probeer om ’n vermiste persoon saak te open.
“Die polisie het vir haar gesê sy is nie meer met hom getroud nie en dat sy dit nie kan doen nie.”

René is nou self ’n ouer en het die afgelope tyd baie na hom verlang.

Nadat sy Woensdag by die lykshuis was en sy meegedeel is dat die lyke nou almal deur families geïdentifiseer is, is sy na die Witbank Polisiestasie om haar pa as vermis aan te gee.

“Hulle het vir my gesê ek kan nie, hy moet as vermis aangegee word op die plek vanwaar hy weggeraak het. Hulle het ook gesê my ma kan hom as vermis aangee, maar die vorige keer het hulle vir haar gesê sy kan nie, want sy is die eksvrou!”

René sê sy wil net graag weet of haar pa nog leef en as hy leef, waar hy is.

René het hom beskryf as lank en maer, met donkerbruin hare en groen oë. Hy het ’n moesie onder sy regteroog, ’n tattoeërmerk van ’n draak op sy regterskouer en ’n ‘Jimmy kriek’ op sy linkerblad. Hy het ook ’n staalplaat in sy linker wysvinger.

As enige persoon weet waar hy hom bevind, bel René by 060 952 9703.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version