News

Ma vra: ‘Leef my dwelmverslaafde seun nog of is hy dood?’

Johan Jacobs het op 9 Junie 2022 vanaf ’n verbyganger in Middelburg se foon af, sy ma gebel. Dit was die laaste keer dat sy van haar dwelmverslaafde kind gehoor het.

Ansie Bosman sê sy is rasend van bekommernis.

“Iemand het my verlede week laat weet dat hulle ’n lyk gekry het in Lydenburg, maar niemand kan sover vir my sê of dit hy is nie. Johan was al voorheen op Lydenburg, maar hy het die laaste maand tot voor hy op 9 Junie gebel het, gesê hy is in Middelburg.”

Sy het intussen laasweek ook ’n vermiste persoon saak in KwaZulu Natal (waar sy nou woon) geopen, met die hoop dat die polisie van daar af kontak sal maak met die polisie in Middelburg.

Me. Bosman sê haar seun het nie ’n selfoon nie en het haar van ’n weldoener se foon af gebel.

Johan se verhaal is, soos baie verslaafdes, een wat deurspek is met hartseer.

Me. Bosman onthou hoe die negejarige Johan aan dagga bekend gestel is deur “’n man wat deur die skoolgronde se heining vir hom dagga gegee het” toe hulle in Pretoria gebly het.

Hy was nog maar ’n tiener toe sy besef het hy is aan dagga verslaaf, toe hy een dag met ’n horlosie by die huis aankom en probeer het om vir haar daaroor te jok. Johan het die horlosie gesteel vir daggageld.

“Ouer maats het hom daarna verder die afgrond in getrek en hy het heroïne begin gebruik.”

Me. Bosman het hom op ’n stadium na die Steve Biko Hospitaal geneem, waar ’n dokter hom op methadone behandeling gesit het om hom van die heroïne af te kry.

Een van die laaste foto’s van Johan Jacobs toe hy alreeds baie maer geword het van langdurige heroïnegebruik.

“Ek en hy het stry gekry want hy wou net méér en méér methadone hê en toe is ek hospitaal toe met hom dat die mediese personeel dit vir hom kon gee.”

Dit het hom egter nie gespeen van die heroïne nie.

“Dit het net erger en erger geword en hy is strate toe.”

Haar moederhart het elke keer versag, as hy teruggekom het huistoe.

“Hy was elke keer net ’n rukkie by my, of ek ontdek naalde of dwelms en dan het ons baklei en hy is weer straat toe.”

Wanneer sy hom wel gesien het, het haar hart ineen gekrimp, want sy het gesien hoe hy maerder en maerder word.

Weens omstandighede het me. Bosman later finansieel alles verloor en het by ’n plek vir haweloses geëindig in Pretoria.

“Ek moes R1 000 per maand betaal en kon dit eenvoudig nie bekostig nie. Toe ek hoor dat ek in ’n wendyhuis in Lydenburg kan bly vir R500, het ek dit dadelik aangegryp.”

Sy het vir die mense gesê dat haar seun moontlik gaan kom kuier, maar dat hy op daardie stadium op methadone is.

“Johan het duim gegooi vanaf Pretoria na Lydenburg toe, maar toe hy daar kom, wou hulle hom nie toelaat nie.”

Daar het intussen vir me. Bosman uitkoms gekom in Durban en sy is soontoe, maar sy weet glad nie wat van Johan geword het nie.

“Hy het elke week met my kontak gemaak van iemand anders se foon af, maar nou is daar net hierdie niks. Waar is my kind? Asseblief, as iemand hom herken, bel asseblief die mense van ‘Missing they Wrote.”

•As enigiemand vir Johan herken, bel 072 184 1242.

•Johan het groen oë en donkerbruin hare, asook ’n snymerk oor sy neusbrug. Verder het hy tatoeërmerke van ’n spinnekop op sy linkerarm, ’n spinnerak op sy bors en vrouebene met visnetsykouse onder een arm.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button