Ballonne “op die vlerk van ’n spierwit duif” die hemelruim in

“Op die vlerk van ’n spierwit duif” het weerklink toe Julize du Plessis en haar gesin ballonne vrygelaat het vir haar man, wat aan Covid-19 oorlede is. Nooit het sy kon dink die ballonne sou haar boodskap meer as 100 kilometer verder wegneem nie.

Die dag toe Julize balonne met spesiale boodskappe vir haar oorlede man se 65ste verjaardag opgestuur het, het hulle nie besef dat soveel mense se harte daardeur aangeraak sal word nie.

Hulle het Woensdag, op 13 Julie, almal bymekaar gekom en agt ballonne vanaf eMahaleni die lug ingestuur.

“Ons het sy gunsteling lied, ‘Op die vlerk van ’n spierwit duif’ van Bles Bridges gespeel, terwyl ons die ballonne laat gaan het.”

Die ballonne met die boodskappies wat Julize in herinnering van haar man, Seef, geskryf het, voordat dit die lug in gestuur is.

Julize se boodskappe aan haar man, Seef, is meer as 100km verder met die wind gedra waar dit op die plaas Sterkloop, in die Stoffberg omgewing, afgegly het grond toe.

Dit is hier waar Kayla Potgieter dit opgetel het en haar hart só aangeraak het, dat sy besluit het om dit op die Facebookblad “Ek reis deur my pragtige land… Suid-Afrika” te deel.

“Ek het nooit gedink dit sal só ver gaan nie. Ons het die eerste keer daarvan gehoor toe my susterskind, Marius, wat oorsee in London bly, dit op Facebook gesien het!”

Marius wou aanvanklik nie dat sy ma vir Julize daarvan vertel nie, omdat hy bang was dit maak haar hartseer.

Dié besondere verhaal van die ballon se pad vanaf eMalahleni na Stoffberg, is net so mooi soos die verhaal wat Julize pas met www.mobserver.co.za gedeel het.

Seef is in Augustus 2021 weens Covid oorlede, nadat hy 21 dae teen die siekte baklei het.

Haar dogter, Anleri, het op die idee gekom “om met Pappa se eerste verjaardag vir hom ballonne op te stuur. Op dié manier het ons gevoel om vir hom boodskappies in die hemel te stuur.”

Hulle het ook ’n video daarvan geneem. Julize se jongste seun, Wynand, kon weens werksverpligtinge nie die ballonseremonie in eMalahleni bywoon nie en het dieselfde tyd as sy familie van Roodepoort af ballonne die lug in gestuur.

Dit is egter nie net die ballonne wat hulle herinner aan die ongelooflike man wat Seef was nie.

Kort-kort kry Julize ‘donstroosveertjies’ wat haar aan hom herinner en haar bemoedig. Selfs die dag nadat die ballonne opgestuur is en vanoggend, het sy van dié veertjies gekry.

“Ek het gisteroggend ’n veertjie gekry in die veiligheidshek en vanoggend was daar ’n veertjie op die kattebak in die motorhuis.”
Haar ‘troosveertjies’ het al verlede jaar sy verskyning begin maak.

“Ek en Seef was albei baie lief vir voëls en die veertjies het op die snaakste tye en plekke hul opwagting gemaak na sy afsterwe.”

’n Maand na sy afsterwe wou sy en haar skoondogter, Ané, na die Life Kosmos Hospitaal gaan, om met die personeel te gesels oor haar man se laaste paar dae.

“Voor ons gery het, het ek by sy foto gaan staan en vir hom gesê dat ek nie antwoorde wil hê vir sekere vrae. Ek het op daardie stadium gewonder of ek moet gaan.”

Hulle is hospitaal toe en net voor hulle ingestap het by die intensiewe eenheid, het sy haar antwoord gekry of sy moet voortgaan.

“In die gang het die veertjie gelê en het ek net gewéét.”

Daar was ook ’n ander keer wat sy bevestiging vir vrae gekry het toe een van haar kinders siek geword het.
Haar seun het toe hy kanker gekry het, twee sipresbome laat plant.

“Hy was weer siek en ek was só bang. Die volgende oomblik het ’n valk in een van die bome kom sit en al in die rondte gevlieg om die bome. Terwyl hy so gevlieg het, het hy vir my gekyk. Net daar het ek geweet, hy gaan gesond word, en hy het.”

Na Seef se afsterwe het sy van sy hemde gekies en gereël dat ’n vrou vir haar en hul vier kinders elkeen ’n beertjie maak.
vier van sy hemde gekies en gereël dat ’n vrou vir elkeen ’n beertjie daarmee maak.

“Die dag toe ek met sy hemde by my kantoor uitstap in die parkeerarea, was ek baie hartseer. Op daardie oomblik het ’n donsveertjie in my vasgewaai.”

Op die beertjie wat Julize vir haarself laat maak het, staan daar op die beertjie se maag: ‘Hallo my Darling’ en op sy voetjie sy doodsdatum (20/08/2021).
Julizi onthou hoe geliefd haar man as onderwyser by die Curro Skool in eMalahleni was, waar hy bedryfsekonomie gegee het.

“Die dag toe hulle hoor hy is oorlede, het ’n kind gereël dat ’n ramshoring skool toe gebring word. Terwyl die ramshoring geblaas is, het die vlae halfmas gehang. Hordes blomme is by sy klas neergesit en die kinders het voor sy klas gekniel.”

Julize werk in die administratiewe kantoor van dieselfde skool.

Seef was onderwyser in die oggende by die Curro Skool en in die aande ’n lektor by die Centurion Academy se kampus in eMalahleni, waar hy net so gewild was.

•Julize het goedgunstiglik die video, foto’s van die ballonne voor dit opgestuur is en ’n foto van die veertjie wat sy in die hospitaalgang opgetel het, vir die joernalis gestuur.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version