KYK: Pasop hier kom ’n taxi…sonder brieke

Keer voor hier kom ’n taxi...sonder brieke!

Videomateriaal wat www.mobserver.co.za bekom het, wys hoe ’n taxi wat se remme gefaal het, ’n voertuig reg op sy deur tref.

Gelukkig het Lorraine Labuschagné geen ernstige beserings opgedoen, nadat haar voertuig getref is nie.
Sy glo “dat daar engele saam met haar in die kar was.”

Alhoewel sy seer spiere en blou kolle opgedoen het, het sy geen bene gebreek nie en is dit, volgens haar, “net die Here se genade.”

Sy het op 21 Junie, omstreeks 14:15, afgery in Cowen Ntulistraat en was van plan om regs te draai in Samora Machelstraat.
Die volgende oomblik het sy net ’n slag gevoel.

“Ek het hom glad nie gesien of gehoor nie.”

Op videomateriaal, wat me. Labuschagné later by die vulstasie op die hoek van Samora Machel- en Cowen Ntulistraat gekry het, kan ’n mens sien hoe daar eers ’n bakkie met ’n vrag lemoene voor die kamera verbyry.

’n Sekonde later kom ’n taxi teen hoë spoed van Samora Machelstraat se rigting oor een van die inrybane van die vulstasie gejaag en tref me. Labuschagné se Renault Duster op die bestuurderskant.

Die taxi het tot stilstand gekom teen die palissadeheining van die Katolieke Kerk in Cowen Ntulistraat.
Haar karretjie word byna heeltemal in die rondte geslinger met die impak.

“Gelukkig het die lugsakke aan die regterkant uitgekom en het ek daardie kant nie baie seer gekry nie. Die blou kolle en seer spiere was alles aan die linkerkant.”

Me. Labuschagné is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem waar X-strale gewys het dat sy geen breuke opgedoen het nie. Sy is kort daarna ontslaan.

•Die taxibestuurder het na die ongeluk gesê dat sy remme gefaal het.

Een van die vroue in die taxi het haar tand gebreek, maar niemand anders het ernstige beserings opgedoen nie.

En hoe het sy byna ongedeerd uit die kar geklim? “Die Here het Sy engele gestuur om my te beskerm.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version