Japie val, nou bedlêend

Japie Oosthuyzen (38), die man wat dringend bloedtoetse moet ondergaan om te bepaal of hy ’n kandidaat is vir ’n heupvervanging, het geval en is nou pal bedlêend.

“Mense het die lelikste opmerkings gemaak, maar hulle weet nie hoe sleg dit met hom gaan nie. Na die val, het sy regterhand ’n groot knop en beide sy arms het ook nou begin swel. Japie is wasbleek en in baie pyn,” het me. Debbie Venter, wat haar die laaste ruk oor hom ontferm, hartseer gesê.

Daar is onlangs berig dat hulle net onder R3 000 benodig vir bloedtoetse, sodat daar bepaal kan word of ’n heupvervangingsoperasie gedoen kan word. Hy het nie meer ’n heuppotjie nie.

Me. Venter sê sy moes letterlik onderdeur ’n motorhuisdeur kruip, om by Japie te kon uitkom, hierdie week “om net vir hom ’n bietjie kos te vat.”
’n Barmhartige samaritaan het R2 000 inbetaal vir die bloedtoetse en sy is dadelik na die bloedbank om te vra of dit sal help.

Lees ook: Jong man verloor alles weens heup sonder potjie

“Die presiese bedrag, as dit kontant betaal word, is R2 970. As ons 60%, R2 227.80, inbetaal en dit afbetaal oor ses maande, dan word die bedrag R3 713.”

Hierdie bloedtoetse is uiters belangrik, aangesien die dokter wil bepaal of hy nie ander onderliggende siektes het nie, voordat hy in ’n provinsiale hospitaal opgeneem kan word vir ’n operasie.

•Me. Venter het pas laat weet dat Japie se toestand sodanig versleg het, dat sy in kontak probeer kom met sy familie om hom dadelik na die Witbank Hospitaal te neem.

Sy hoop dat hy dadelik aarvoeding sal kry en dat hulle dan maar later die bloedtoeste sal moet doen om te kyk of hy daar geopereer kan word.

•Persone wat nog ’n bydrae wil lewer vir die kostes vir die bloedtoetse, kan me. Venter bel by 079 452 5302.

•As die bloedtoetse wys dat Japie ’n geskikte kandidaat is vir die heupvervanging, kan dit in ’n staatshospitaal gedoen word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version