Seekoeie swerf steeds rond – byt gat in boot

Die seekoeie wat Middelburgers se verbeelding aangegryp het, het ’n gat gebyt in die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad se boot toe hulle die seekoeie wou verdoof.

“Die water het letterlik uit die boot uit gestroom toe hulle op die kant kom. Gelukkig is niemand beseer nie,” sê mnr. Piet Wassenaar, toe wwww.mobserver.co.za hom uitvra oor die seekoeie se doen en late.

Vandat die seekoeie uit Middelburg verdwyn het vanaf die Klein Olifantsrivier, oor die (Groot) Olifants tot duskant eMalahleni en die Verena area, het hulle al vir groot drama gesorg.

Sowat drie weke gelede het hulle die boot van die MTPA aangeval toe daar gepoog is om hulle aan te keer, omdat hulle naby aan mense in ’n plaasdam op die Verenapad was.

Lees ook: Besoedeling, en toe verdwyn seekoeie

“’n Mens kan nie die seekoeie pyl as hulle vir jou kyk in die water nie, hulle moet weg van jou af swem.”

Mnr. Wassenaar het op die kant agtergebly en drie lede van die MTPA is met die boot die dam in.

Die seekoeie (heel regs) lê op die damwal, terwyl die beeste naby hulle wei.

“Die seekoeie het ’n paar keer opgekom, maar elke keer gesig eerste vir die boot gekyk. Die volgende oomblik het hulle die boot aangeval. Daar is ’n gat in die boot gebyt. Hulle het ook onder die water ingegaan en die boot gestamp.”

Hulle kon gelukkig uitkom, voordat die seekoeie weer aanval.

Met die seekoeie se vertrek uit Middelburg teen die einde van April, was daar nog ’n seekoeibaba saam met hulle. Die kleintjie is egter nooit weer gesien nie.
Daar word vermoed dat hy deur die Klein Olifants- of die Olifantsrivier meegesleur is, aangesien beide die Middelburg- en Witbankdam se sluise oop was.

Die seekoeie het vanaf die Klein Olifantsrivier opbeweeg in die Olifantsrivier en beland in mnr. Jumbo van der Merwe se dam op die Zaaihoek plaaspad. Vandaar het hulle geskuif na twee damme op die Verenapad, waar hulle eers in die kleiner en toe in ’n groter dam op die plaas gesien is.

Lees meer: Mense wat seekoeie wil skiet

Dis hier waar hulle die gat in die boot gebyt het.

Dieselfde nag het hulle weer koers gekies terug op hul oorspronklike pad terug en gaan kuier in mnr. Van der Merwe se dam duskant eMalahleni.
Toe hulle nie meer daar gesien is nie, het mense van die Jackaroo en later ook die Kalbasfonteinplotte laat weet dat hulle die seekoeie opgemerk het.

Mnr. Wassenaar sê dat hy in die tyd wat die seekoeie by die Kalbasfonteinplotte gesien is, die seekoeie met ’n helikopter uit die lug gesien het.

Daarna was dit vir ’n dag of wat stil, maar hy is weer gekontak toe die twee seekoeie in die Olifantsrivier op die ou Witbank/Middelburgpad gesien is.
Hy het nog nie self die seekoeie daar gesien nie, maar sê hy het wel hul spore gekry.

Die gate in die boot nadat een van die seekoeie die boot aangeval het toe lede van die MTPA hulle wou pyl.

“Hulle is weerskante van die brug, stroomop en stroomaf gesien Ons het reeds die mense van die Jackaroo- en Kromdraaiplotte op hul WhatsApp groepe gewaarsku om veral in die nag versigtig te wees.”

Mnr. Wassenaar sê daar is ’n lekker diep poel van sowat drie kilomter lank waar die seekoeie op en af beweeg.

Alhoewel dit lyk of die seekoeie op dieselfde pad terug is as wat hulle weg beweeg het vanaf Middelburg af, weet mnr. Wassenaar nie of hulle weer so ver terug sal stap nie.

Seekoeie kan egter kilometers ver, veral in die nag beweeg en hy vra dat enige persoon wat die seekoeie opmerk, om hom te bel by 082 870 4124.

•Mnr. Wassenaar het ’n permit van die MTPA om probleemdiere te verwyder en is deur die MTPA gevra om die seekoeie dop te hou.

•Hy het ’n video gestuur waar ’n mens duidelik sien hoe die water uit die gate, waar een van die seekoeie dit stukkend gebyt het, uit stroom.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version