News

Elfjarige na mamma se dood: ‘ek is nie kwaad vir Liewe Jesus nie’

Klein Bennie Lombard se hartjie is stukkend oor sy mamma se dood, maar in sy hartseer het hy vir sy pa gesê: “Ek is nie kwaad vir Liewe Jesus nie, Hy is getrou. Hy het ’n doel met alles.”

André Lombard se stem raak die hele tyd weg as hy vertel hoe sy seuntjie hom in hierdie tyd ondersteun na sy vrou, Gerda (45), se dood.

“Bennie is my anker. Dit wys jou net die fondasie wat Gerda in sy lewe geplaas het. Nou ondersteun hy my.”

Mnr. Lombard kan steeds nie glo dat sy vrou so skielik oorlede is nie.

Sy was by die Morehill Rehabilitasiesentrum na ’n operasie en daar het groot opgewondenheid geheers, omdat sy hierdie week huistoe sou kom.
“Nadat die dokter vir my gesê het Maandag sy kan huistoe kom, het ek vir Gerda gebel en sy was só bly!”

Hul gesprek sal hom altyd bybly. “Sy het gesê sy het die oggend gebid en haar woorde was: ‘die ‘Groot Ek is’ het my geantwoord.”
Sowat ’n uur later het hy haar weer probeer bel, maar sy het nie geantwoord nie.

Die Lombard gesin. Andre, klein Bennie en Gerda. Me. Lombard is Maandagaand oorlede.

Omstreeks 18:00 het die dokter hom gebel en gesê Gerda het ’n hartaanval gehad.

“Ek het nog gesê dit is reg as sy langer bly, maar die dokter het gesê hy dink nie ek verstaan nie, sy is weg. My foon was op luidspreker gestel want ek en Bennie was besig om kos te maak. My kind het in trane uitgebars en ek het vir die dokter gesê ek sal hom terugbel, want ek moet eers my kind troos.”

Die laaste vier jaar was nie ’n maklike pad nie, nadat me. Lombard al vier jaar gelede met hartprobleme gediagnoseer is.
Nadat sy medikasie gekry het, het dit beter begin gaan.

Die jaar 2021 was baie traumaties vir die gesin.

Me. Lombard het weens die Covid pandemie haar besigheid, Jumbo Video, gesluit, maar het gelukkig weer werk gekry.

In April 2021 het sy geval in die stort en haar been op drie plekke gebreek. Die been wou nie herstel nie en sy het haar werk verloor.

Kort daarna is sy ook met hartversaking gediagnoseer en in Novembermaand het sy Covid opgedoen, terwyl sy in die hospitaal behandeling vir die hartversaking gekry het.

Sy was net tuis, toe hulle weer terug is hospitaal toe en sy is per ambulans oorgeplaas na die Glynnwood Hospitaal waar haar hartspesialis werk.
Nadat sy vir hoë infeksietellings behandeling gekry het, is sy op 14 Desember huistoe.

“Ons is Dullstroom toe vir ’n vakansie en ek het my vrou so bederf.”

Op 2 Januarie het sy weer pyn in die bors gekry en het mnr. Lombard met haar terug gejaag na die Glynwoord Hospitaal.
Toetse het gewys dat haar hart vergroot is en op haar slukderm druk.

’n Operasie was egter buite die kwessie, want daar is ’n nie-kwaadaardige gewas in die slukderm gevind.
Na ’n 30 dae herstelperiode is hul terug, maar ’n tweede nie-kwaadaardige gewas is gekry.

Die dokter het hulle in kennis gestel dat sy ’n klepvervangingoperasie moet kry en dit is twee keer uitgestel, voordat sy op 14 April geopereer is.
“Ek is so dankbaar dat sy op 12 April tuis was met my verjaardag.”

Na ’n bykans 12 ure operasie, is hulle in kennis gestel dat sy gelukkig nie ’n klepvervanging gekry het nie, maar dat die klep net herstel is.
Weens komplikasies toe sy na vyf dae wakker gemaak moes word, moes sy nog 18 dae onder sedasie gehou word.

Die sprankelende Gerda Lombard soos almal haar sal onthou.

“Gebedsgroepe van regoor Suid-Afrika en die wêreld het vir haar gebid.”

Me. Lombard was net vyf dae wakker, toe haar regterarm begin swel en hulle agtergekom dat haar limfklierstelsel ook beskadig is.
“Sy het egter merkwaardig herstel en is na net ’n paar dae oorgeplaas na die Morehill Rehabilitasiesentrum.”

Mnr. Lombard sê sy vrou het drie weke gelede goed begin stap en binne ’n week van 10 treë na meer as 200m gestap en selfs trappe geklim.
“Sy was weer haar ou self en ons het vir haar gaan kuier.”

Twee weke gelede het sy hulle egter gebel en gesê dat sy weer Covid opgedoen het en terug is op suurstof.

“Ons het mekaar gereeld gebel per video-oproepe en sy was by haar volle verstand, aangesien sy selfs nog ons banksake hanteer het!”
Mnr. Lombard sê selfs die dokters en personeel was geskok toe sy skielik oorlede is.

“Sy het met haar borrelende geaardheid nog met almal geskerts, toe sy skielik inmekaarsak. Hulle het alles probeer, maar sy het net daar gesterf.”

As hy sy vrou moet beskryf “sal 1 000 woorde nie genoeg wees nie. Gerda was ’n Godsvrou, ’n wonderlike mens. Ons was beste pelle en sy het alles met soveel ywer aangepak. Sy het nooit moed opgegee nie en was die een wat my moed ingepraat het, as dinge met haar sleg gegaan het. Gerda was altyd positief.”

Mnr. Lombard onthou hoe sy altyd vasgehou het aan die teksvers uit Romeine 8:31: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?”

Hy vertel trots dat sy op ’n stadium selfs Bybelklasse aangebied het.

“Dit is soos Bennie sê: die Here het Sy plan gehad.”

•Die begrafnis is volgende Woensdag om 11:00 uit die AGS Lighuis gemeente. Pastoor Danie Venter sal die diens lei.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button