Skole toe weens protesaksie met Pretorius se verskyning

Mnr. Willie Oosthuizen, DA Wyksraadlid, het op die Demokratiese Alliansie Groblersdal Facebookblad gesê dat hy inligting ontvang het dat daar aansoek gedoen is deur twee groepe om optogte te hou op Vrydag, 24 Junie, in Groblersdal.

Skole op Groblersdal sal more gesluit wees en inwoners van die dorp is gewaarsku om eerder die omgewing te vermy, wanneer die vermeende kinderaanrander, Corrie Pretorius, more om borgtog aansoek doen.

Volgens Groblersdal Buurtwag is daar toestemming gegee vir ’n protesoptog in die pad voor die Groblersdal Landdroshof in Tauteslaan, waar die verdagte, Corrie Pretorius, weer sal verskyn, ná sy saak verlede week uitgestel is vir ’n formele borgaansoek.

Mnr. Pretorius word beskuldig vir die aanranding van ’n 16-jarige seun in die parkeerarea voor Fat Cake City in Groblersdal.

Die aanranding het verlede week Woensdagaand plaasgevind en die Tik Tok-video van die gebeure, wat kort daarna op sosiale media versprei is, is reeds deur duisende gesien.

Mnr. Pretorius word aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer en rig van ’n vuurwapen.

Mnr. Willie Oosthuizen, DA Wyksraadlid, het op die Demokratiese Alliansie Groblersdal Facebookblad gesê dat hy inligting ontvang het dat daar aansoek gedoen is deur twee groepe om optogte te hou op Vrydag, 24 Junie, in Groblersdal.

“Die eerste groep is die EFF. Hulle gaan omstreeks 08:00 by B3 in die industriële gebied van Groblersdal bymekaar kom en van daar af verby Amper Alles en Midas tot by die hofgebou beweeg in Tauteslaan. Ná die hofverrigtinge is die groep veronderstel om uiteen te gaan.”

Hy sê verder dat die tweede groep wat aansoek gedoen het die ANC Jeugliga is.

“Hulle gaan by die hof bymekaar kom en na die verrigtinge gaan hulle in Voortrekkerstraat afbeweeg, links draai in Herefordstraat tot by Barlowstraat en daar dan weer links draai en tot by die polisiestasie loop, waar ’n memorandum oorhandig sal word.

Daarna sal hul beweeg na die park in Hans Abrahamstraat en daar uiteengaan.”

Groblersdal Buurtwag waarsku dat inwoners die dorp moet vermy.

“Besigheid eienaars moet self die besluit neem om hul besigheid te sluit of oop te hou,” sê mnr. Kobus Hildebrand, voorsitter van Groblersdal Buurtwag.

“Daar is baie mense wat vir my vra of hul, hul besighede moet sluit en wat verwag kan word.

Ek kan ongelukkig nie voorsien dat die twee groepe by die reëls sal hou nie. Daarom moet elke persoon na goeddunke handel. Ek wil egter almal aanmoedig om paraat en wakker te wees,” sê mnr. Oosthuizen.

Hy sê ook dat hy gesprekke met verskillende rolspelers gehad het dat die verkeersdepartement, plaaslike polisie, sowel as die publieke orde polisie van Polokwane teenwoordig sal wees om orde te handhaaf.

• Die skole in Groblersdal sal ook Vrydag gesluit wees.

Hoërskool Ben Viljoen het ’n kennisgewing op hul Facebookblad gedeel en gesê dat ouers kennis moet neem dat daar nie Vrydag, 24 Junie, skool sal wees nie, weens die dreigende protesakie. “Ons leerders se veiligheid is ons prioriteit.”

Laerskool Julian Muller het in ’n brief aan die ouers gesê dat daar na konsultasie met die Departement (Kringbestuurder) besluit is dat die skool Vrydag, 24 Junie, gesluit sal wees.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version