Kinders dans toe hulle nuus oor maskers kry

Ek het soms gevoel ek versmoor en kon nie meer die natuur ruik nie.

• Laerskool Dennesig leerlinge:

Chanelle du Preez: Vandat Covid begin het is dit maskers orals! Al waaroor alles gegaan het! Dit was verskriklik vreemd en frustrerend. Ek kan nie mooi hoor as iemand iets sê nie, want alles gaan oor die vorming van mense se mond. Toe was ons skielik ook doof. Almal in my klas was te bang om te praat. Ek het alleen gevoel. Die masker het gevoel of ons gestraf word. Amper asof ek in ’n tronk was. Die gevoel was verskriklik!
Die oomblik toe ek uitvind maskers is ’n ding van die verlede, het ek amper in trane uitgebars en op my tafel gedans! Ons kan amptelik weer “normaal” lewe. Ek kan weer asem haal. Ons kan nou weer mekaar se gesigte, emosies en glimlagte sien. Die beste gevoel ooit!
Danika Barnard: Die dag toe ek hoor ons moet elke dag maskers dra was ek geskok, bang en hartseer. Ek het nooit so iets verwag nie. Ek het glad nie daarvan gehou nie, dit was aaklig! Ek het gesukkel om lekker asem te haal en ek het skaars my maats se gesigte herken. My masker was ook gereeld vuil of ek het hom êrens vergeet. Vandag vind ek uit ons hoef nie meer maskers te dra nie. Ek is so bly daaroor! Nou gaan ek weer kan asem haal. Ek gaan nie meer bekommerd wees oor ’n stukkende of vuil masker nie. Ek hoop nie dat so iets ooit weer met ons sal gebeur nie.

Retha Mothoung: Ek het baie alleen en skaam gevoel. ’n Gevoel van isolasie ervaar. Dit het gevoel asof ek en al my maats agter ons maskers wegkruip. Niks emosie kan gesien of gevoel word nie. Om nie naby my maats te kan wees of eers ’n drukkie gee en te kry nie, was die heel ergste vir my. Dit is asof die lewe glimlag-loos was. En die woorde van “hou jou masker aan” was vreesaanjaend. Geen Maskers? Wat? Die heel beste nuus ooit! Om weer almal se gesigte, glimlagte en ’n gevoel van vryheid te kan voel is ongelooflik! Ek dink dit is die beste dag van my lewe, wel beste dag in twee jaar. Dit voel so onwerklik. Dit voel soos ’n stukkie sonskyn in die koue dag.

Danté van Vuuren: Die tyd met maskers was vir my ongelooflik sleg. Ek het gesukkel om asem te kry en was net nie gemaklik nie. Om te dink dat ons vir amper drie jaar maskers gedra het. Ek het soms gevoel ek versmoor en kom nie meer die natuur ruik nie.
Toe ek gehoor het dat ons nie meer maskers hoef te dra nie het ek begin huil. Dadelik was my masker in die asblik. Ek voel nou weer my ou self. Hierdie moet dalk ’n nasionale dag word.

Hogan van Rensburg: Die eerste keer toe ek uitvind dat ek ’n masker moet dra was ek opgewonde want ek het nog nooit een gedra nie. Die begin was lekker want ek kon by die huis bly, en heeldag speletjies speel, want ons het niks anders gehad om te doen nie.
Na ’n jaar was dit nie meer lekker om ’n masker te te dra nie, want jy kry permanent hoofpyn en jy word moeg. Jy vergeet jou masker, kry raas en moet een by die kantoor gaan haal. Toe sê ons president ons hoef nie meer ’n masker te dra nie, Hiep Hiep Hoera! Ons was so bly, ons het almal begin dans!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version