Seekoei naby Blinkwater Meule gesien

Daar is nou hier, daar en oral seekoeie!

Eers was hulle op Middelburg, toe in eMalahleni en nou is een van hulle in die Stoffberg omgewing gesien!

Me. Sibongile Mahlangu sê sy was Vrydag omstreeks 05:40 op pad werk toe, toe sy iets sien in die skemerdonker in die veld op die Blinkwater Meule plaas (Stoffbergpad).

Sy het eers gedink dit is ’n bees, maar het besef die dier is te groot. Toe sy mooi kyk, het sy besef dit is ’n seekoei!

Me. Mahlangu het mnr. Piet Wassenaar (eienaar, Presidio sekuriteitsfirma in eMalahleni) gebel, want sy het op www.mobserver.co.za die berigte oor die seekoeie gesien en sy nommer daar gekry.

Mnr. Wassenaar het ’n permit om probleemdiere te verwyder en het die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap het hom gevra om die seekoeie dop te hou, toe hulle in die eMalahleni omgewing opgemerk is. Ons het sy nommer op die webtuiste geplaas, sou iemand die seekoeie sien. Mnr. Wassenaar het dadelik mnr. Johannes Lekoto (MTPA, Middelburg kantoor), gebel nadat die vrou hom genader het, waarna mnr. Lekoto op sy beurt die vrou gekontak het.

Me. Mahlangu het vanoggend gesê dat sy nog nie weer die seekoei gesien het nie.

• Nadat die seekoeie vanaf Middelburg verdwyn en die afgelope tyd in die eMalahleni omgewing gesien is, was mnr. Wassenaar se nommer op die mees onlangse berigte. Sy het hom gebel en hy het die MTPA daarvan verwittig.

• Mnr. Lekoto sê hy het die vrou gevra om hom te laat weet as sy weer die seekoei sien, waarna hy dan soontoe sal gaan om te kyk of die seekoei verwyder moet word.

Hy sê dat dit beslis net een seekoei was wat sy gesien het.

• Daar is bespiegelinge dat die seekoeie wat in eMalahleni gesien is, moontlik nie dieselfde seekoeie is wat op Middelburg was nie. Daar was ’n kalfie by die twee seekoeie in Middelburg.

Die oomblik toe hulle in ’n plaasdam duskant eMalahleni opgemerk is, was daar nie meer ’n kalfie by hulle nie. Die vermoede het bestaan dat die kalf meegesleur is in die Klein Olifantsrivier toe die Middelburgdamsluise oopgemaak is.

Daar is ook gesê dat hy meegesleur kon gewees het in die Olifantsrivier, omdat die Witbankdam se sluise ook oop was.

Nou begin ’n mens wonder of dit nie dalk twee groepe seekoeie is nie.

Kuier Middelburg se seekoeie dalk nou alweer op Stoffberg? Daar is ’n seekoeibul twee jaar gelede tussen Stoffberg en Dullstroom gesien. Daarna is daar ’n koei in Dullstroom se strate opgemerk.

Mnr. Ertjies Röhm (Wildbestuur, MTPA) het tydens hul besoek aan Middelburg, toe die seekoeie hier rondgeloop het, gesê dat hulle vermoed dat die bul en koei by mekaar uitgekom het en toe saam ’n kalf gehad het.

Op 9 Maart het personeel van die Rietvlei Myn op die Stoffbergpad, sowat 21km buite Middelburg, laat weet dat hulle ook twee seekoeie naby die myn gesien het.

Op daardie stadium was daar nie ’n kalfie by nie en hy is waarskynlik in die Middelburg omgewing gebore.

• As daar seekoeie in die Middelburg en Stoffberg omgewing opgemerk word, bel mnr. Lekoto by 082 432 2762 en as hulle in die eMalahleni area gesien word, bel mnr. Wassenaar by 082 870 4124.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version