Menlo-matrieks: puik uitslae span die kroon op harde werk

Een skool. Een span onderwysers. Een matriekgroep: 294 matrieks met ʼn groepgemiddeld van 73.8%.

Hierdie statistiek behoort aan Die Hoërskool Menlopark wat weereens vanjaar met hulle puik matriekuitslae gewys het dat Menlo se akademie hom nie laat inperk nie. Die wêreldkrisis wat aan die begin van 2020 ontvou het, het ʼn ingrypende impak op onderwys gehad en leerders wat vanjaar matriek moes aflê, was met reg bekommerd. Met ʼn verkorte skoolkalender in 2021 en belangrike eksamens wat nie kon plaasvind nie, het die taak om die sillabus betyds af te handel bykans onuitvoerbaar gelyk.

Wanneer ʼn Menloparker woorde soos moeilik en onmoontlik hoor, word dit outomaties na uitvoerbaar en geleentheid verander. Met klein klasgroepe, toegewyde onderwysers en vasberade leerders word uitdagings in ʼn japtrap halveer terwyl geleenthede verdubbel.

Meneer Schalk Reynders, skoolhoof, beaam dat die Klas van 2021 hom in die afgelope twee jaar deurgaans met hulle positiewe gesindheid verstom het. “Die leerders het nooit moed verloor nie, maar elke dag se uitdagings en omwentelings met grasie en durf die hoof gebied. Die matrieks se entoesiasme laat ʼn onuitwisbare spoor by Menlopark agter. Ons skool bars van trots.”

Die gemiddelde van die vakke wat deur die meeste leerders geneem word, onderstreep dat Menlo se akademiese plan die impak van Covid kon uitoorlê. Met vakgemiddelde soos 73.1% vir Afrikaans, 76.8% vir English (FAL), 70.3% vir Wiskunde, 74.1% vir Fisiese Wetenskappe, 71.9% vir Lewenswetenskappe en ʼn allemintige 78.7% vir Rekeningkunde is daar geen twyfel nie – Menloparkers is in veilige akademiese hande.

Die aantal onderskeidings wat die Parkies in hierdie vakke ingepalm het, dwing verder respek af. Hulle spog met 94 onderskeidings vir Afrikaans, 102 onderskeidings vir English (FAL), 70 onderskeidings vir Wiskunde, 62 onderskeidings vir FW, 41 onderskeidings vir LW en 55 Rekeningkunde-onderskeidings.

ʼn Verdere ontleding van Menlo se indrukwekkende statistiek toon ʼn gemiddeld van 2.9 onderskeidings per leerder terwyl die toppresteerder met ʼn gemiddeld van 95.2% spog. Tel die volgende prestasies daarby – een leerder behaal tien onderskeidings, vyf leerders verwerf nege onderskeidings, agt leerders spog met agt onderskeidings, drie en twintig leerders behaal sewe onderskeidings en net soveel leerders verwerf ses onderskeidings – en jy kan nie anders nie as om tot die slotsom te kom dat akademie ʼn ereplek by hierdie gebalanseerde skool geniet.

Met 858 onderskeidings en 97 matrieks wat met ʼn A-gemiddeld spog, is 100% nie net dié skool se slaagsyfer nie – dit is die Menlo-manier.

Vir nog informasie

Skakel ons

Stuur vir ons ‘n epos

Besoek ons webtuiste

Kyk ons Facebook blad

 

Exit mobile version