Lily Mtsweni se merkwaardige pad na bo

In Afrika is daar ’n sêding: dit neem ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak. Lily Mtsweni is ’n goeie voorbeeld daarvan.

Dié merkwaardige verhaal begin met Lily se ma, Martha Mtsweni, wat ’n ernstige gesprek met haar werkgewer, Ena van den Berg, gehad het oor haar ongemak om haar baba gewoon ná haar geboorte na die ouma te stuur om groot te maak.

Dit is ongelukkig weens ’n gebrek aan ondersteuningsnetwerke iets wat alte gereeld gebeur.

Martha én Lily se pa het in daardie stadium by Ena van den Berg gewerk. Martha as huishulp van die Van den Berg-gesin.
Ena sê toe “Kom ons maak ’n plan.”

Sy onthou die dag toe Lily gebore is. Martha is dieselfde dag nog ontslaan en die piepklein bondeltjie het haar eerste lewensnag in die Van den Bergs se huis deurgebring.

Sy is nou nog daar.

Ena is vandag soos ’n tweede ma vir haar. ’n Mens sou kon sê die Van den Bergs se dogter, Lené, het daardie dag ’n sussie ryker geword.

’n Baie spesiale band het tussen Lily en Lené ontstaan – een wat ’n enorme invloed sou hê op die gebeure tydens ATKV-Redenaars se eindronde by Goudini op 1 Augustus vanjaar.

Toe Martha weer begin werk, het sy Lily in ’n appelboks al agter haar aangesleep en die oulike baba het diep in almal se harte ingekruip.

Dit was sommer gou duidelik dat dié bietjiemensie ’n ysere wil het om soos haar sussie te wees – Lené se pad, van Mpumalanga na die modewêreld van Europa, is self merkwaardig.

Sy het ná skool vir ’n hele paar jaar namens ICE Model Management oor die wêreld heen op loopplanke verskyn, veral in Europa. Sy is nie net mooi nie, sy is slim ook en spog vandag met ’n BCom-honneurs-graad.

Lily wou, nes haar sussie, ook presteer. Die gemeenskap van Middelburg het dit raakgesien en ’n weldoener het besluit om Lily se skoolgeld te borg, sodat sy by die Laerskool Staatspresident C.R. Swart kon skoolgaan.

Daar het haar passie en vasbytvermoë haar ook laat uitblink en vanjaar is sy as die onderhoofmeisie van die skool aangewys.

As redenaar het sy gou haar slag gewys. Sy het verlede jaar reeds die eindronde van die ATKV-Redenaarskompetisie gehaal en toe besluit sy gaan in 2019 die ATKV-Redenaars wen.

Wen of nie, om tot die finaal deur te dring is reeds ’n besonderse prestasie. Dit was egter nie net Lily se prestasie nie, maar die van die hele gemeenskap. Haar familie was bankvas agter haar – dit was veral duidelik in haar toespraak.

Lily het tydens die ATKV-Redenaars-kompetisie aan die gehoor vertel hoeveel sy haar sussie, Lené, bewonder. Lené was ook in die gehoor, so ook Lily se ma, Martha, en haar ander ma, Ena. Almal wat Lily ondersteun het, was daar by die geleentheid by die ATKV-Goudini Spa vir die ATKV-Redenaars.

Kort vóór die prysuitdeling het Martha Mtsweni bitter trots langs haar meisiekind gaan staan. Selfs in daardie baie benoude oomblikke het die jong Lily se oë geglinster terwyl sy vertel het hoekom haar toespraak oor haar sussie gaan.

Hoekom dan so gespanne?

“Lily het regtig gekom om te wen,” sê Ena.

Hulle weet die mededinging was sterk, maar daardie ysere wil van die, steeds klein, mensie is steeds daar. Sy wóú vanjaar wen.

Kort ná die foto’s geneem is, gaan die deure oop en kon die verrigtinge begin.
Verskeie pryse in verskeie kategorieë is toegeken.

Toe kom die aankondiging: Beste Taalgebruiker in die ATKV-Redenaars se eindronde vir Laerskool Graad 6 – 7, Addisionele Taal gaan aan Simpiwe Lily Mtsweni, Laerskool Staatspresident CR Swart.

Lily was trots, dit was duidelik, maar sy het vir die ander aankondigings gewag.
Derde plek: Pabalelo Pabi Kgolane, Laerskool Julian Muller.
Twee plek: Sisamkele Cekiso.

En toe, die wenner van die ATKV-Redenaars se eindronde vir Laerskool Graad 6 – 7, Addisionele Taal: Simpiwe Lily Mtsweni, Laerskool Staatspresident C.R. Swart!

Presies hoe groot die ondersteuning vir Lily is, kon ’n mens ná die tyd sien. Vir meer as ’n halfuur het sy en die res van die familie vanaf Goudini talle mense by die Laerskool Staatspresident C.R. Swart en die res van die gemeenskap gebel. Dit was immers ’n spanpoging.

Een van die oproepe was van Ena na Lily se wiskundeonderwyser.

Sy kommentaar? “Dis uitstekende nuus, maar sê asseblief vir Lily sy moet vanaand eers ontspan en hoef haar nie nou oor môre se huiswerk te bekommer nie.”

 

 

 

 

 

 

Lees ook:

Nagwedloop by CR Swart

Potjiekos- en boerewors kampioene gesoek 

Pappa aap dink ‘mammegaai’ is ‘n vrytjie

Stoffbergpad eis nog ‘n lewe

 

 

 

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version