Trane toe geld vir kankerseun nie realiseer nie

Die egpaar wat in Middelburg op klagte van bedrog gearresteer is, het volgens sosiale media platforms 'n lang spoor van bedrog.

Sers. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê dat Peter en Aletta Scrooby na ‘n lokval by ‘n plaaslike trokhandelaar, vir bedrog gearresteer is. Die paartjie het glo vervalsde dokumentasie gebruik om ‘n koopooreenkoms vir 90 trokke aan te gaan. Hulle het daarna na bewering ‘n vervalsde bankbetaling van R1,7 miljoen verskaf, in ‘n poging om 10 van die 90 trokke in die hande te kry.

Lees ook: Bedrog uit tronkselle

Op Facebook het Eileen van Tonder vertel hoe sy met dieselfde vrou, hierdie keer onder die naam Kathy Coetzee, ’n bloutjie geloop het. Me. Van Tonder se seun, Jordan, het kanker en sy het die groep Jordan’s Journey – Thyroid Cancer Warrior begin om fondse vir haar kind in te samel.

Sy het geskryf dat Kathy Coetzee, wat beweer het dat sy die direkteur van Pakamisa Logistics is, haar gekontak het omdat sy R2 miljoen aan Jordan wou skenk.

Me. Van Tonder het vertel hoe sy moet raap en skraap om aan die lewe te bly en elke moontlike sent spandeer om haar kind elke ses maande in Amerika te kry vir kankerbehandeling wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

Sy was in trane toe sy hoor dat sy so ‘n groot bedrag geld gaan kry.

Lees ook: Veiligheidsman beweer bedrog van R100 000

‘Kathy’ het aan haar gevra om ‘n beëdigde verklaring dat Jordan kanker het, vertroulike mediese dokumente sowel as beëdigde afskrifte van haar en haar kind se identiteitsdokumente, te stuur.

Terwyl me. Van Tonder en haar seun in Amerika was vir behandeling, het ‘Kathy’ gebel en gesê sy dink nie Jordan verdien die geld nie. Me. Van Tonder was platgeslaan.

Sy het vermoed dat ‘Kathy’ nooit die geld wou betaal nie en dit net gebruik het as lokaas om haar dokumente in die hande te kry. Haar vrese is bewaarheid toe iemand haar gebel en gewaarsku het dat hulle deur ‘n vrou genader is vir fondsinsameling, wat in besit van me. Van Tonder se dokumente was.

Lees ook: Gesoekte vrou pleeg selfmoord na polisie toeslaan

Me. Van Tonder sê dat sy in kennis gestel is dat ‘n derde persoon, wat saam met die Scrooby egpaar in Middelburg gearresteer is, voorgegee het om sy te wees.

Die vrou het egter tydens ondervraging erken dat sy nie die regte identiteit gebruik het nie.

Daar is ook twee saaknommers, een in Dunnottar en een in Brakpan, op Facebook geplaas waarin ‘Kathy’ die verdagte is.

Lees ook: Ondersoek –  Vele kla oor Johan Pelser

Op Pinterest is daar ‘n verdere kriminele klag wat in Westonaria oopgemaak is, gepubliseer.

Die vrou gebruik verskillende skuilname waaronder Kathy Coetzee, Aletta Susanna van der Merwe, Aletta Susanna Oosthuizen, en Kathy of Katryn Scrooby.

Gawie Vermaak het namens die ware Phakamisa Logistics ‘n plasing op Facebook gemaak waarin hy kliënte waarsku om nie om die bos gelei te word nie. Hy het die Scrooby egpaar beskuldig dat hulle sy besigheid probeer kaap het.

Die paartjie het reeds in die Middelburghof verskyn. Hul saak is uitgestel, wanneer hulle formeel om borg sal aansoek doen.

Ander nuus: 

Rowers sleep bejaarde oor pad

Father kills two robbers after being stabbed in his Aerorand home

Rooftog slagoffer erg getraumatiseerd na siek grap

VIDEO: Opvolg – Jong Koedoe het kakebeen gebreek

VIDEO: Koedoe hol by skool se ouditorium in

VIDEO: Koedoe het dorp op hol, want hy hol die hele dorp vol

Exit mobile version