Dís wat dwelm-ouers aan kinders doen

’n Dwelmverslaafde ouer het ’n keuse of hy ‘hoog’ wil raak op dwelms, maar sy kind het nie ’n keuse om dit te aanskou nie. Maatskaplike werkers skets ’n hartverskeurende prentjie van wat met sulke kinders gebeur.

Dit is die harde werklikheid waarmee maatskaplike werkers elke dag mee moet werk: Om ‘stukkende’ kinders, wat deur dwelm- en drankmisbruik, wat in baie gevalle lei tot aanranding en molestering, te probeer ‘heel’ maak.

“Ons wil vir mense ’n ander prentjie skep oor wat die kinders beleef as hulle in ’n drank- of dwelmafhanklike ouerhuis grootwoord,” het me. Linette du Preez (maatskaplike werker) gesê.

Lees ook: Dwelms, moord, oorwinning!

In ’n onderhoud met maatskaplike werkers by die Middelburg CMR, is die prentjie verskuif vanaf die verslaafde bedelaars op straat, na die kinders van verslaafdes.

“As hierdie ouers op dwelms is, gee hulle nie om wat van hul kinders word nie en stel hulle die kinders bloot vir misbruik, soos verkragting.”

Omdat die ouers nie behoorlik na die kinders kan omsien nie, word hulle gedwing om die grootmensrol oor te neem en dit is hier waar die hartseer en krisisse begin.

“’n Kind is nie opgewasse om op 10 jaar die rol oor te neem van ’n ouer nie en dit veroorsaak soveel skade.”

Lees ook: Al meer trap in dwelmstrik

Hierdie trauma veroorsaak dat kinders ’n chemiese wanbalans in die brein kry en dan ernstige probleme ondervind.

Met navorsing is bewys dat kinders wat aan trauma blootgestel word, se struktuur van die brein kleiner is. Hulle het gewoonlik probleme met spraak, leervermoëns en ernstige gedragsprobleme soos aggressie.

Van hierdie kinders kan nie eers ’n lepel vashou om te eet nie en sommige maak beddens nat totdat hulle tieners is.

Ander is so gewoond aan die ‘oorleef’-patroon, dat hulle daarmee volhou en selfs by die plek van veiligheid soos ’n ouer optree.

“Baie word ook as ‘stout’ geklassifiseer of verkeerdelik gediagnoseer met ADHD weens die vlug/veg/vries oorlewingspatroon waar dit lyk of hulle nie omgee nie.”

Pleegouers en maatskaplike werkers het al gesien dat kinders in ’n plek van veiligheid wel in hul beddens in die aand klim, maar dan later onder die bed slaap.

Lees ook: Vyf vriende het al gesterf

Me. Du Preez sê hierdie kinders was so gewoond daaraan dat dwelmhandelaars in die nagte gekom het om transaksies te doen of geld te kom haal, óf moeilikheid te maak, dat hulle altyd onder hul beddens moes wegkruip.

Heroïen verslaafde ouers gee nie om wat van hul kinders word nie, omdat jou emosies verdoof word met die dwelm.

“Die kind besluit dan, grootmense is bad news, en hulle word vir niks bang nie. Dit kom van die feit dat hulle nie logiese denke het nie, omdat hulle nie reg ontwikkel het nie. Hulle het dus géén grense nie.”

Skokverhale waarmee maatskaplike werkers al te doen gehad het:

•’n Heroïenverslaafde ma, wat die dwelm gebruik het terwyl sy swanger was, se baba het kort na geboorte onttrekkings begin kry. Die baba het aanmekaar geskree, waarop sy die baba ook heroïne ingegee het om hom stil te maak!

•’n Ouer het met ’n baba op die heup gebedel om op mense se gevoelens te speel om sodoende dwelmgeld in die hande te kry.

•’n Klein kindjie het babapoeier op ’n tafel in ’n lyntjie gegooi en dit probeer snuif, net soos die ouers wat kokaïne gesnuif het.

•’n Sesjarige het ses worsbroodjies geëet, omdat hy bang was daar is nie nog nie.

•’n Ander kind het kos orals weggesteek, omdat daar so min kos was in die huis waar die verslaafde ouers alles verkoop het vir dwelms.

Lees ook: Sonia se verhaal… en die nege vriende wat dood is

•Tydens die verrigtinge in die kinderhof, het ’n tweejarige kind vir sy dertienjarige sussie “Mamma” gesê. Sy het vandat hy ’n baba was die ouerlike pligte nagekom, omdat die ouers weens hul afhanklikheid nie na die kinders kon omsien nie.

•By een pleeghuis is daar ses kinders tussen die ouderdom van drie en 12 jaar wat steeds in die nagte doeke moet dra weens die emosionele skade wat hulle by hul ouerhuise opgedoen het.

Die maatskaplike werkers het gemeld dat baie mense dink dat dwelm- en drankafhanklikheid net voorkom by arm mense. “Die ryk mense steek dit net makliker weg. Afhanklikheid is ’n ménsding, nie ’n klas- of rasding nie.”

•Hul boodskap aan ouers is: “Dink voor jy doen, jy het ’n keuse, jou kind het nie. Jou dwelms kan die realiteit vir jou wegvat, maar jou kind het nie iets om die realiteit oor jou dwelmgebruik weg te vat nie.”

Lees hier hoe die prosesse werk wanneer kinders weggeneem word by ouers en ook die goeie nuus dat daar wel hulp is.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version