Vrou glo by ‘kliniek’ verkrag terwyl sy onder narkose was

’n Vrou se rektum is so erg beskadig tydens ’n verkragting, dat sy vir die res van haar lewe kolostomie sakkies moet dra.

Elsie (van weerhou) was ’n borrelende lewenslustige vrou toe sy na ’n kliniek in Gauteng verwys is met blaas probleme. Daar sou hulle onder narkose met ’n kamera na haar blaas kyk om te bepaal wat verkeerd is.

Elsie vertel dat sy en twee mans, waarvan die ouer een homself as ’n dokter voorgestel het, alleen in die teater was.

“Dit was nie soos ’n gewone teater met ligte en goed nie. Dit was ’n klein donker kamertjie gewees.”

Die laaste wat sy kan onthou is net voor sy onder narkose gesit is. Toe sy wakker word het dieselfde ouer man vir haar gesê dat sy aan ’n ‘senuagtige blaas’ lei voordat sy ontslaan is.

Lees: Is vrou verkrag? Wat maak sy in die nag?

“Dit was vreeslik seer. Ek het geweet daar is groot fout. Ek wou net weg kom,” vertel sy.

Toe sy by die huis kom en badkamer toe gaan, het haar derms by haar rektum uitgepeul en haar vagina het gebloei.

“Ek het dit terug gedruk en gehoop dit sal gesond word.” Elsie het vir maande so geleef.

Bykans ’n jaar later, het haar dogter toevallig gesien wat aangaan toe haar ma die toilet gebruik terwyl sy in die bad was.

“Ek kon my oë nie glo nie. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Daar was bloed oral,” vertel die dogter geskok.

Hulle het haar ma daarna terug dokter toe gevat wat gesê het dat hy nooit ’n amptelike verslag van die kliniek gekry het nie. Hy het haar na ’n ginekoloog verwys.

Lees: Dogter verkrag tydens plaasaanval

Die ginekoloog het aan Elsie vertel dat haar beserings ooreenstem met iemand wat gewelddadig verkrag is. Haar rektum was so erg geskeur dat geen dokter kans gesien het om dit te herstel nie.

Daar is selfs foto’s geneem en aan ’n dokter in Kaapstad gewys wat ook laat weet het dat haar rektum onherstelbaar beskadig is.

Sy moes uiteindelik ’n kolostomie ondergaan, waarin die punt van haar derm deur ’n opening in die maag na buite getrek en dan met ’n sakkie toegerus word waarin dit dreineer.

Lees: Bende verkrag meisies

Dit het Elsie se lewe vir ewig verander. Nie net moet sy teen die demone wat haar teister na haar verkragting baklei nie, maar sy het ook as gevolg van die kolostomie sakkies wat sy moet dra, ’n kluisenaar geword.

Elsie self het geen beheer oor wanneer haar derm dreineer nie. Sy is te bang vir vernedering om daarmee in die openbaar te verskyn en spandeer haar dae saam met haar hondjie in ’n houthuisie in haar seun se agtererf.

Sy leef al vir bykans sewe jaar met die kolostomie. Die tekort aan sakkies by die kliniek het haar egter nou verder in ’n hoek gedruk.

Sy sê dat sy noodgedwonge haar storie vir www.mobserver.co.za vertel het, met die hoop dat iemand haar sal help.

Haar medies dek nie die sakkies wat sy nodig het nie, omdat sy nie kolonkanker het nie. Sy kry dit by ’n plaaslike kliniek maar is nooit seker of daar voorraad gaan wees nie.

“Partymaal kom jy daar en dan sê hulle daar is nie voorraad nie, jy moet maar volgende week weer kom hoor. ’n Week is ’n lang tyd as jou sakkies klaar is.”

Die kliniek weier ook om meer as 10 sakkies op ‘n slag te gee en sê dat dit genoegsaam is vir ’n maand.

Lees: Ek is verkrag, ek wil nie hê dit moet met iemand anders gebeur nie

Elsie probeer haar sakkie voorraad rek deur dit self te was, maar na ’n paar dae raak die reuk so erg dat sy noodgedwonge die sakkie moet vervang met ‘n nuwe een. Daar is ook die alewige gevaar van infeksie.

Sy huil saggies en vra dan omverskoning vir haar trane terwyl sy haar storie vertel.

“Ek is jammer, vandag is weer ‘n slegte dag,” verduidelik sy.

Sy hou ’n foto van haar ou gelukkige self vas. Op die foto glimlag sy. Die vrou wat die foto vashou is maer en uitgeteer. In skrille kontras met die glimaggende vrou op die foto, is haar mond nou op ’n dun strepie getrek, haar hondjie haar enigste vertroosting.

Indien daar iemand is wat Elsie kan help met kolostomie sakkies, kan hulle ’n e-pos stuur na jana@mobserver.co.za.

Ander nuus:

Waar is Wolfswinkel se moordenaars?

Waarskuwing aan boere: Pas jul vee op hierdie feesseisoen

Verkeerskonstabel met blou lig kaap trok op N4

Nuus op ’n drafstap

Kry nuus op ’n drafstap. Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) op jou foon, stuur ’n WhatsApp boodskap met die woorde “Add me” om nuus flits skakels op jou foon te kry.

Exit mobile version