NewsUpdate

Opvolg: Boer wat vermoor is was kolonel in kommando

Dit is ironies dat die boer wat op sy plaas naby Groblersdal aangeval is, Herman Botha, ’n kolonel was en bevelvoerder van die ontbinde Loskop Kommando.

Die kommandostelsel het ’n groot rol gespeel in landelike beveiliging, maar is deur die nuwe regering tot niet gemaak.

Kommando-eenhede soos Loskop, Witbank en Middelburg, was aktiewe eenhede wat ’n reuse rol gespeel het om veral die platteland te beveilig.

Kommandolede het tot drie maande kampe in die vroeër tagtigerjare gedoen en operasies uitgevoer op die land se grense.

Hulle het ’n groot rol gespeel om veral die grense van Swaziland en Zimbabwe te beveilig.

Daar word al jare ’n beroep gedoen op die regering om die kommandostelsel weer op die been te bring.

Mnr. Botha en sy familie is op sy plaas oorval deur agt mans.

Daar is intussen betroubaar verneem dat een van die mans wat na die aanval aangekeer is, ’n getroue tuinwerker op ’n ander boer se plaas is.

•“Oom, kry asseblief vir ons ’n ambulans. Hulle het my pa sleg geslaan,” was die pleidooi oor die radio deur een van mnr. Botha se seuns, kort voor sy pa dood is.

Volgens inligting van Kobus Hildebrand, voorsitter van Groblersdal Buurtwag, wat die radio kontrolekamer beman het tydens die aanval, het die noodroep vanuit mnr. Botha se huis om 11:30 gekom.

Boere en lede van die buurtwag is dadelik gemobiliseer.

Mnr. Botha en een van sy seuns was op pad terug huistoe van die beeste af. Sy vrou, Meisie, en haar skoondogter asook hul kleinkinders het ook pas teruggekeer van die kerk af. Die Botha familie is toe in die plaashuis oorval.

Mr Botha se Etios is later by die Loskop Winkelsentrum gekry.

Mnr. Botha en sy seun, Bernard, is aangerand. Mnr. Hildebrand sê sover hy bewus is, is mnr. Botha nie geskiet soos wat daar berig word nie. Die aanvallers is weg met ’n wit Toyota Etios motor en ’n onbekende aantal vuurwapens wat aan mnr. Botha behoort het.

Die dringende versoek vir ’n ambulans is kort daarna oor die radio gemaak. Swift Emergency Medical Services se ambulans het mnr. Botha op die toneel kom haal en dadelik versoek vir ’n helikopter om hom te kop oppik. ER 24 se helikopter het op die Groblersdal rugbyveld geland. Mnr. Botha is egter dood voordat hy in die ambulans gelaai kon word.

Lees vorige storie hier: Plaasaanval: Boer dood voor helikopter hom kan oppik

Gemeenskapslede het die Etios kort daarna verlate by die Loskopdam winkelsentrum gekry, met van die vuurwapens nog daarin. ’n Verdagte Toyota Fortuner is op die N11 gejaag maar verloor kort nadat dit op die Elandsdoorn grondpad afgedraai het. Die voertuig is later verlate, sowat 20 kilometer van die toneel af gekry.

Twee verdagtes is gearresteer nadat hulle gesien loop en voorgekeer is. Daar is twee vuurwapens in hul besit gekry en daar kon later vasgestel word dat die vuurwapens in mnr. Botha se naam geregistreer was.

Na wat verneem word is daar laat Sondagaand ’n derde verdagte gearresteer. Daar kon nog nie vasgestel word of hy positief met die voorval verbind word nie.

Lees verwante nuus hier:

Dogter verkrag tydens plaasaanval

Plaasaanval bakkie gevind

Lt. kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo polisiewoordvoerder, sê dat die polisie nog probeer vasstel aan wie die Fortuner behoort. Hy het in ’n persverklaring gesê dat die polisie ’n grootskaalse soektog na die oorblywende verdagtes geloods het. Enige iemand met inligting kan kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.

Mnr. Botha was ondermeer die hoof van die Sekhukune Landelike Veiligheid, asook vroeër ’n bevelvoerder van Loskop Kommando.

Hy was in sy laat 60’s.

Intussen het Flip du Plessis gesê die SAW Veterane is bewus van kol. Botha se dood. “Kaptein Allan Neil sal reël vir ‘n militêre erewag”.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button