My Beurt: Gerhard Rheeder

Joernaliste is die oë en ore van die gemeenskap.

Dis nie ‘n maklike beroep nie, maar ‘n lonende een.

Daar is niks so lekker as om na ‘n dag se werk tuis te kom en te weet, dat jy ‘n verandering in iemand se lewe gemaak het.

Die pen is immers magtiger as die swaard.

Verlede week word ons ontbied na Bonckerstraat.

Daar bly al drie maande ‘n vrou in ‘n motorwrak.

Al wat mens kan doen is om haar storie te vertel, en te hoop dat dit iemand elders van verslawing sal red.

Ons neem fotos en ‘n video van die haglike omstandighede waarin sy bly.

Ons is nie daar om haar hardhandig uit die kar te pluk en na ‘n rehabilitasiekliniek te ontvoer nie.

Ons vra of ons haar op enige manier kan help.

Die antwoord is ‘n hard en duidelike “nee”.

Kort na die berig aanlyn verskyn, kruip die internettrolle uit hul gate.

“Mens vat nie ‘n kamera en notaboek saam om iemand te help nie”. Regtig!?

“Sensasie!”

Regtig!?

Kort na die koerant met haar storie op die voorblad te koop is, begin die fone lui.

“Wat kan ons doen om te help?” en “ek wil graag vir haar gaan bid,” en “waar kan ons kos aflewer,” is maar van die versoeke wat instroom.

En net daar besef ek, daar is die hulp. Te danke aan my storie! Aan die skokfoto. Aan die feit dat sy nie meer net ‘n skim is waarvan talle weet, maar eerder swyg nie.

My werk is gedoen.

Exit mobile version