Vrou lankal dood – Verpleegster sê: ‘vital signs are good…’

Bets Claassen is dood! Sy het gesterf terwyl muggies en miere oor haar lyf krioel en brommers om haar gedraai het.'n Statige vrou wat so 'n wrede dood moes sterf en waarvoor haar familie nou antwoorde soek.

Me. Claassen was op 3 Februarie nog besig om te loop, toe sy gegly en haar heup gebreek het. Haar kinders, Sankus, Gerda en Regina, het geglo dat sy gehelp sou word by die Middelburg Provinsiale Hospitaal.

Wat ‘n wrede ontnugtering het nie op hulle gewag nie! Binne ‘n week het sy begin bedsere ontwikkel en bykans 12 weke later moes haar seun haar oë toedruk…toe sy gesterf het.

“Ons wou haar verskeie kere skuif, maar die dokter het ons verseker hulle sal die bedsere gesond kan maak en dan moet sy geopereer word. Toe haar liggaam heeltemal vrot word, wou geen ander instansie haar meer hê nie, want dit was duidelik dat sy septisemie het!”

Dag vir dag het hulle vrae gevra. As daar vir ‘n kombers gevra is, is dit na hulle gegooi. As hulle oor haar toestand uitgevra het, was daar soms sarkastiese antwoorde.

Verlede Woensdag moes me. Gerda Hendriks met ‘n handdoek die brommers wegwaai wat op haar ma in haar hospitaalbed kom sit het. “Ons het naar geword van die reuk, maar kon haar nie net so los nie!”

Bykans elke dag het sy skoon linne gebring vir haar ma en die personeel het aan die begin toegelaat dat sy help om haar ma te bad. Toe hulle egter begin vrae vra oor haar agteruitgang en foto’s neem van die wonde weens bedsere, is dit beantwoord met aggressie van die hospitaalpersoneel. Daar is selfs ‘n kennisgewing opgesit by die hospitaal wat gesê het dat daar nie foto’s geneem mag word nie.

Deur trane vertel haar kinders dat hul ma teen die einde só oortrek was van die bedsere “dat sy nie meer boude gehad het nie. Daar was bedsere op haar skouers, haar rug, voete en bene. Toe hulle die gewig afhaal om haar in die sak te sit, het die velle sáám afgekom!”

Die kinders is Sondagoggend laat weet dat hul hospitaal toe moet kom. Hulle sê haar toestand was ernstig en hul ma was baie onrustig.

Me. Hendriks het haar ma oopgemaak en was geskok toe sy oral op haar ma se lyf muggies en miere kry. “Die miere het aan my ma gebyt!”

Me. Claassen se kleindogter, Ursula Groenewald, sê sy het op ‘n stadium oor haar ouma gebuk en agtergekom sy haal nie meer asem nie.

Almal was in die kamer en mnr. Smit het sy ma se oë toegedruk, nadat sy gesterf het.

“Ons het vir hulle gesê ons ma is dood, maar ‘n verpleegster het die hele tyd na die masjien gekyk en gesê: ‘her vital signs are good.’ Dit nadat sy al ‘n geruime tyd dood is!”

• Die familie wil ‘n lykskouing laat doen om te bepaal waaraan sy dood is. Daarvoor moes hulle egter ‘n saaknommer hê en is Maandagoggend polisiestasie toe om ‘n saak van nalatigheid te gaan open.

‘n Groot skok het egter op hulle gewag. ‘n Polisievrou het in ontvangs op mee. Hendriks en Dercksen geskree en gesê dat hulle nie ‘n saak kan open nie, aangesien hulle nie bewyse het van enigiets nie “en dat niemand vermoor is nie.” Me. Dercksen het probeer verduidelik dat hulle ‘n saak van nalatigheid wil oopmaak teen die hospitaal. “Sy het haar hande in die lug gegooi en geskreeu: ‘vir wat!”

Hulle was omgekrap oor die gebeure en kon nie glo dat die polisie weier om ‘n saak te open nie.

• Mediawoordvoerder kapt. Khanyisile Zwane het gemeld dat “daar tans ‘n vergadering is om te bepaal of daar meriete is of die familie ‘n saak kan open.” Dit nadat sy in verskeie vorige mediaberigte gesê het dat die polisie nie kan weier om ‘n saak te open nie.

• Kol, Manus Oosthuizen (waarnemende stasiebevelvoerder) het gesê dat hy “weet daarvan en dat dr. Dr. Ntuli hom ook gebel het.”

Dr. Lientjie Ntuli (Kliniese Bestuurder) het tydens die Observer se vorige navraag oor me. Claassen gesê dat hulle “alles aan die familie verduidelik het en as hulle nie tevrede is nie, hulle die provinsiale gesondheidskantoor kan kontak.” Volgens die familie het daar nooit ‘n dr. Ntuli met hulle gepraat nie.

• Die kantoor van die premier het verlede Donderdag reageer in ‘n navraag wat die Observer aan hul kantoor gerig het rakende me. Claassen se toestand.

Me. Jermina Reneiloe Marakala (Direkteur Generaal Ondersteuning, Kantoor van die Premier, Mpumalanga Kantoor) het gesê dat daar per opdrag (direktief) van die Direkteur Generaal se kantoor opdrag gegee word dat die Mpumalanga Gesondheidsdepartement die kwessie moet ondersoek en dat daar op 20 April ‘n verslag ingedien moet word. Die Observer het hul kantoor Maandag in kennis gestel dat me. Claassen oorlede is.

Lees vorige stories hier:

Vrou se bedsere vrot

Vrou deurtrek van bedsere

Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.

Slagting in hospitale

• Kort voor druktyd het me. Dercksen laat weet dat dr. Ntuli hulle in kennis gestel het dat daar wel ‘n lykskouing gedoen sal word.

• Kapt. Zwane het kort voor druktyd gesê dat die polisie aangevra het vir ‘n geregtelike doodsondersoek en dat ‘n lykskouing wel gedoen sal word.

Exit mobile version