News

Vrou se bedsere vrot

Die bedsere van Bets Claassen (77) vrot so erg dat haar kinders die brommers moet wegwaai!

Mnr. Sankus Smit was Donderdagoggend buite homself van woede oor sy ma se toestand wat steeds daagliks agteruit gaan.

“Toe ek Woensdagmiddag twee deure van haar kamer af kom, het ek al die vrot reuk gekry!” Niks kon hom voorberei wat hy egter gesien het toe hy by die deur instap nie.

“My suster het met ’n handdoek die brommers en vlieë probeer wegwaai! Die etter loop deur die verbande, maar hulle wil nie hê ons moet sien hoe lyk die bedsere of dat my susters bystaan is as hulle dit skoonmaak nie! Dit is tog ons ma!”

Hy het gesê dat hy ’n paar dae gelede daar gekom en sy ma op haar maag gevind het. “Sy kon nie self omrol nie en haar arm was só seer die res van die dag, want dit was onder haar lyf vasgeknyp.”

Al drie me. Claassen se kinders, Gerda Hendriks, Regina Dercksen en Sankus Smit, het in die laaste paar weke gesê dat personeel ongeskik is met hulle en nie hul vrae wil beantwoord nie. Me. Dercksen het hierdie week ook vertel hoe ’n kombers vir haar gegooi is toe sy verlede Dinsdag, toe dit so koud was, vir ’n kombers vir hul ma gevra het.

“Ek is al histeries. Elke keer as ons met hulle probeer praat, dan is hulle ongeskik. Toe ek weer een aand uit ordentlikheid vra hoe dit met my ma gaan, was die antwoord: “Listen carefully, how many times must we tell you? Sort it out with the day shift!”

 

Me. Claassen het op 3 Februarie geval en haar heup gebreek. Net ’n paar dae later het haar familie gesien dat ’n bedseer op haar een boud begin vorm.

“Die been steek al uit. Daar is nie meer ’n boud nie,” het me. Dercksen hartseer gesê.

Mnr. Smit sê sy ma kerm en huil aanmekaar van pyn. “Sy is nou ook deurmekaar en dit is duidelik dat sy septisemie het!”

• Die heup het nie aangegroei nie en me. Claassen kan weens die bedsere ook nie geopereer word nie.

• Dr. Lientjie Ntuli (Kliniese Bestuurder) het tydens die Observer se vorige navraag gemeld dat hulle alles aan die familie verduidelik het en as hulle nie tevrede is nie, hulle die provinsiale gesondheidskantoor kan kontak. Sy wou nie verdere kommentaar lewer nie.

• Die Observer het kort voor druktyd die klagtes deurgestuur aan die Mpumalanga en Nasionale Departement van Gesondheid en die Menseregtekommissie. Hul kommentaar sal in volgende week se koerant gepubliseer word.

• ’n Video waar me. Claassen van pyn huil en sê: “Ek kan nie meer nie,” kan gesien word by www.mobserver.co.za.

Back to top button