Ergste droogte in 40 jaar

In wat boere die ergste droogte in 40 jaar noem, moes boere en die brandweer sedert Saterdag teen brande veg, wat kort-kort weer opgestaan het.

Pamela Erichsen, die dogter van Niels en Kathy Erichsen, het Maandag tydens ‘n brand op hul plaas Rietspruit ‘n kort pleitbriefie op Facebook geskryf, wat die verwoording is van vele boere wat in hierdie krisis staan.

“Ek kom vandag met ‘n pleitende hart dat julle hierdie boodskap deel. Ons is in die ergste droogte sedert 1972. As ‘n kind van ‘n boer kan ek glad nie onthou dat my pa nog ooit in November teen vure baklei het nie.

Dit is gewoonlik hierdie tyd van die jaar wanneer daar nuwe lewe op die lande is, nuwe gras vir die diere.

“Dit breek my hart om te sien wat elke boer deurgaan. Ons het teen brande gestry die afgelope drie dae, dit is hartverskeurend. Ek vra elke persoon om te bid vir reën, want ons is regtig in ‘n desperate situasie.”

Haar ma, Kathy, het dit beaam. “In die 40 jaar wat ek met Niels getroud is, het ek nog nooit so iets gesien nie!”

Die eerste brand het Saterdag sy ontstaan op die plaas van mnr. Pieter Erasmus (Rondebosch) gehad toe ‘n klomp gemors deur iemand aan die brand gesteek is.

Die brand het blitsig versprei en boere van die hele omgewing het met vuurspuiters opgedaag om die vlamme te probeer blus.

“Ek het aanvanklik nie van die brand geweet nie, maar die boere in die omgewing het ingespring en begin om teen die brand te stry.”

Teen omstreeks 18:00 was die vlamme geblus.” Sondag het die brand teen vroegoggend weer ontspring om die res van die weiding en lusernlande in puin te lê.

“Daar is ‘n gesegde onder die boere: ‘hoekom spaar ons weiding op die Hoëveld, sodat dit kan brand!’ Maar hierdie droogte in November is ongekend. En ek het net verlede week vir iemand bale gegee, omdat hulle dit nodig gehad het, nou het ék dit nodig!”

Me. Erichsen sê die brand Maandag het ook sy ontstaan gehad deur iemand wat ‘n klomp vullis op een van die plotte aan die brand gesteek het.

Die brand het hierna soos blits versprei na die hoenderplaas en uiteindelik na mnr. Niels Erichsen se plaas, Rietspruit.

“Dit is asof die wortels onder die grond in die sand ook brand, want kort-kort het dit weer op ‘n ander plek opgestaan, asof dit onder die grond uitkom. Ons ken sulke brande in Julie en Augustus, nié in November nie!”

Sy het gesê dat hulle nog net tot einde November kan plant. “Dit help nie om miljoene rande in te sit nie. Maar as ons nie plant nie, is daar nie ‘n inkomste nie. Maar daar is nie water van Bo nie.

Dit is ‘n slegte siklus. Ek kry egter die kleinboere jammer, want hulle sal nie weer kan opstaan nie.”

Die tekort aan weiding het hulle nou genoop om hul kallers minder te maak. “Ons verkoop gewoonlik eers in Januarie, maar daar is nie meer weiding nie!”

Me. Erichsen sê dat die mense in die dorpe nie die krisis van die boere besef nie. “Die gemeenskap moet agter die boere kom staan en sáám met ons bid. Ons wéét Hy is groot. Ons moet net meer bid!”

• Sowat 40 boere het Dinsdagoggend by Glen Cullen byeen gekom om te bid vir reën. Donderdagoggend is daar op die plaas van mnr. Vilhelm Erichsen weer vir reën gebid.

• Die hele gemeenskap van alle kerkdenominasies word gevra om die biddag vir reën Sondag tussen 15:00-16:00 by die banketsaal by te woon.

• Sondag om 17:00 kan almal ook gaan saambid op die koppie agter Gholfsig om hande te vat in gebed vir reën.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Exit mobile version