Geen blaastoestel beskikbaar

Versoeke dat 'n trokbestuurder vir bestuur onder die invloed van alkohol getoets moet word, het op dowe ore geval op 'n ongelukstoneel.

Me. Elsa Jacobs is steeds lyfseer ná ‘n ongeluk Maandagoggend op die hoeke van Lilian Ngoyi- en Proteastraat. Wat gebeur het op die toneel ná die ongeluk krap haar steeds om.

Sy het met haar Ford Fiësta afgery in Lilian Ngoyistraat en, volgens haar, was die lig groen. “Die volgende oomblik was die trok voor my en ek het probeer uitswaai, maar hy het my karretjie getref.”

Die impak was só geweldig dat die neus van die kar tot bykans téén die deur was en ‘n onbekende man moes haar deur oopforseer om haar uit die voertuig te kry.

Die trokbestuurder (sy naam is onbekend) het ook uitgeklim en haar dadelik beskuldig dat sy die skuldige is. Twee mense, ‘n vrou wat in die aankomende verkeer was, asook ‘n vrou wat op die hoek gestaan het, het gesien dat die lig groen was vir haar.

Me. Jacobs sê daar was binne minute verkeersbeamptes en polisielede op die toneel. Sy het teenoor hulle opgemerk dat die bestuurder van die trok na drank ruik. “Van die verkeersmanne en polisiemanne het met die trokbestuurder eenkant gaan praat. Daarna het hulle aangedui daar is geen blaastoestel beskikbaar vir hom om te blaas nie. Wil jy vir my sê in die hele Middelburg was daar géén blaastoestel beskikbaar nie!”

Sy kon haar oë nie glo toe hulle kort daarna die bestuurder van die trok toelaat om te ry nie. Háár karretjie is totaal afgeskryf en moes van die toneel af gesleep word.

• Die Observer het navraag gedoen by die mediakantoor van die polisie. Daar is gemeld dat ‘n gewone ongeluksverslag geopen is. Geen roekeloos nalatig óf bestuur onder die invloed sake word ondersoek nie.

• Me. Jacobs doen ‘n beroep op die twee vroue (die een in die wit voertuig, asook die voetganger wat op die hoek gestaan het) om haar te bel by 082 452 6075.

Me. Elsa Jacobs is omgekrap omdat ‘n trokbestuurder deur die polisie en verkeer toegelaat is om te ry na ‘n ongeluk. Volgens haar het die trokbestuurder na drank geruik.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version