Misdaad buite beheer

Misdaad is buite beheer in die dorp! By twee geleenthede die naweek is mense helder oordag beroof terwyl vele mense in die omgewing anderpad gekyk het.

Saterdag is twee mense in ‘n kort bestek slegs blokke van mekaar af beroof. Die eerste slagoffer was mnr. Bossie Bosman en net ‘n klein rukkie later is dr. Werner Ferreira by ‘n kitsbank in OR Tambostraat oorval en aangerand.

Mnr. Bossie Bosman is in sy voertuig deur ‘n groep rowers oorval en sy beursie gevat waarin ál die geld was wat sy vrou geïn het met nagte van koekies bak.

“Dit sal die tweede jaar wees wat my kinders nie kersgeskenke sal kan kry nie,” het me. Marisa Bosman Sondagoggend hartseer gesê.

Die gemeenskap het Saterdagmiddag haar ontstelde plasing gelees waarin sy vertel het van die voorval waar haar man, Bossie, beroof is. Wat haar verder omgekrap het, is dat daar ‘n hele paar mense in die omgewing gestaan en kyk het wat gebeur, maar niks gedoen het nie.

Mnr. en me. Bosman en hul seun, Cornél, is Saterdag gou dorp toe om krag te gaan koop en bestanddele sodat me. Bosman nog koekies kon bak.

In John Magagulastraat (aan die agterkant van die OK Sentrum) het sy en haar seun uitgespring en by die sentrum ingestap, waarop mnr. Bosman in die luierende kar gewag het totdat daar ‘n parkering oopgaan.

Minute later het hy ‘n parkering gekry en gestop. Die voertuig het ‘n sentrale sluitstelsel en die oomblik wat die voertuig afgesluit word, gaan die deure oop. Mnr. Bosman was nog besig om sy venster toe te maak, toe iemand sy vrou se selfoon deur die venster uit sy hand pluk.

Hy het dadelik reageer, die selfoon teruggegryp en dit onder die sitplek van die voertuig ingegooi. Voordat hy die persoon kon konfronteer, het die kar se deure oopgevlieg en nóg vier mense het by hom in die voertuig gespring.

Daar is vir hom gesis dat as hy iets doen, is hy dood. Hy kon nie sien of hulle wapens het nie, maar wou nie omkyk en sy lewe in gevaar stel nie.

Die groep het die hele kar deursoek vir waardevolle items. In die paneelkassie was me. Bosman se beursie (sy het hom juis nie saamgeneem toe sy uitklim nie, omdat sy bang was dit word gegryp) en agter onder die sitplek het hulle Cornél se skootrekenaar gekry. Hulle kon gelukkig nie me. Bosman se selfoon weer raakvat nie, maar hulle het mnr. Bosman deursoek en sy Blackberry selfoon gegryp.

Mnr. Bosman sê binne ‘n bestek van slegs twee minute “was alles verby.”

Me. Bosman het hartseer gesê dat dit ‘n slegte jaar vir hulle was. Haar man het laat verlede jaar sy werk verloor en eers nege maande later weer werk gekry.

Hulle kan egter nie ál die gate toestop met sy inkomste nie en sy en haar graad nege dogter, Clarissa, werk nagte tot baie laat om koekies te bak om te help met die nodige uitgawes in die huis.

Nadat haar boodskap op Facebook geplaas is oor die roof, het vele mense gesê dat hulle bestellings vir koekies by haar sal plaas. Sondagoggend het ‘n sakevrou ook gesê dat sy ‘n koopbewys vir haar sal gee om bestanddele te gaan koop.

Die familie was baie dankbaar vir die reaksie van die gemeenskap op die plasing. “Baie dankie vir almal wat gesê het hulle sal bestellings plaas. Ek was só kwaad vir die mense wat Bossie nie gehelp het nie en later die dag word my vertroue in die mensdom weer herstel met die reaksie van mense wat omgee!” Hulle hoop en vertrou nou net dat dit genoeg sal wees sodat hulle die krag kan betaal en die nodigste uitgawes sal kan dek.

• Mnr. Bosman het nie ernstige beserings opgedoen nie.

• Lees elders hoe dr. Werner Ferreira by ‘n kitsbank aangeval is.

• Die Observer het die laaste week ook berig oor ‘n kaping en poging tot kaping binne drie dae net in Meyerstraat.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version