News

Ondersoek: Vele kla oor Johann Pelser

Nadat mnr. Japie Jonker se Facebookboodskap verskyn het, het verskeie mense na vore gekom wat ook ongelukkig is met mnr. Johann Pelser.

• Me. Yvette Breedt (van Kanonkop) sê hulle het mnr. Pelser R13 500 betaal om ‘n palissade heining vir hulle op te sit. Hy het die werk net halfpad gedoen en ook nie ‘n hek opgesit nie. Hulle moes iemand anders R16 000 betaal om die werk klaar te maak.

“Hy het sy kruiwa en troffel hier gelos, so ons moet nou maar tevrede wees dat dit al is wat ons vir R13 500 gekry het.”

• Mnr. Jan du Preez (68) is sy aftree-neseiertjie kwyt, nadat hy sake met mnr. Pelser gedoen het. En al is hy besig met ‘n regsaksie teen mnr. Pelser, weet hy nie of hy ooit sy geld gaan sien nie.

Hy het die Wonderpark Kelders drankwinkel by die Wonderpark sentrum besit. Die drankwinkel is later oorgeneem deur die Spar Tops drankwinkelgroep.

Mnr. Du Preez het ook biltong op die perseel verkoop. Hy het met derduisende rande se toerusting soos ‘n koelkamer, yssleepwa en ander artikels, wat by die drank- en biltongwinkel gebruik is, gesit. Hy wou alles stuk-stuk uit die hand uit verkoop, maar mnr. Pelser het van hom gehoor en dadelik belang gestel in alles.

Mnr. Du Preez het ‘n lys van alles gemaak (dit is in die Observer se besit) en het dit aan mnr. Pelser voorgelê.

“Hy was in my vrou, Elsie se kantoor. Sy is ‘n rekenmeester en Johann het met alles ooreen gekom. Hy het so mooi van die Here gepraat. Ons het geglo hy sal dit betaal!”

Daar is ooreengekom dat mnr. Pelser ‘n bedrag van R10 000 of meer per maand sou betaal totdat sy skuld vereffen is. Die totale bedrag was R220 087.

“Hy het een keer R20 000 betaal – wat ek glo die R20 000 is wat mnr. Jonker as deposito vir die werk op sy voertuie betaal het. Daarna nog R10 000 en toe nooit weer nie! Die laaste bedrag is op 5 Oktober 2013 betaal!”

Mnr. Pelser het Dinsdag aangedui dat hy en mnr. Du Preez ‘n skikking bereik het.

Mnr. Du Preez het ‘n skikking tussen die twee van hulle ontken en gemeld dat “al skikking waarmee ek tevrede sal wees, as ek my geld in my hand het!”

• ‘n Ruk later het mnr. Du Preez een van sy sleepwaens in die dorp gesien en die sakeman wat dit gesleep het, gevra waar hy die sleepwa gekry het. Dié het vir hom gesê dat hy dit by mnr. Johann Pelser gekoop het.

• Die sakeman (wie se naam op versoek weerhou word) sê hy het verskeie artikels, waaronder die sleepwa, by mnr. Pelser gekoop.

Die sakeman het ook ‘n Ford 6610 by hom gekoop vir R30 000.

“Ek besef nou ek het eintlik gesteelde goed gekoop! Toe Johann in die moeilikheid was, het ek ek ‘n groot klomp gereedskap by hom gekoop vir R8 000. Ek wonder wáár kom dit vandaan?

• Volgens nog ‘n sakeman wat anoniem wil bly, het mnr. Pelser hom verlede jaar genader en gevra dat hy ‘n voertuig vir hom moet oorverf.

Die voertuig, net ‘n Landcruiser-bakwerk en onderstel (die enjin, ratkas en alle ander parte was verwyder), het agter op ‘n trok by sy besigheid aangekom.

Mnr. Pelser het gesê hy het dié dop op ‘n veiling gekoop en dat dit hom R80 000 gaan kos om weer vir hom ‘n enjin in te sit. “Ek het hom oor gespuitverf, maar elke keer as ek hom gebel het om dit te kom haal en die rekening te vereffen, het hy iets fout gevind. Sy rekening by my is R35 000!”

Met mnr. Jonker se besoek hierdie week aan die besigheid, het hulle besef dit is sý Landcruiser se bakwerk wat oorgeverf is.

• “Die wetter het my ook ingeloop!” het mnr. Johan Bezuidenhout uitgeroep.

Hy het in 2013 vir mnr. Pelser by sy huis in Dennesig ‘n boorgat gesink. Mnr. Pelser skuld hom R14 580.

• Mnr. Hardus van den Berg (van eMalahleni) sê mnr. Pelser skuld hom R7 000 vir die uithaal van ‘n ratkas.

Pelser antwoord bewerings teen hom:

Mnr.. Johann Pelser het as volg op die aantygings reageer.

• Op mnr. Japie Jonker se bewerings, sê hy dat beide hy én sy prokureur verskeie kere vir mnr. Jonker gevra het om ‘n prokureur te kry, sodat die eis aan die kurator oorgedra kan word.

Hy het belanggestel in die Landcruiser, aangesien die voertuig heeltemal stukkend was en hy mnr. Jonker wou help. Dit sou sowat R150 000 beloop om reg te maak.

Mnr. Jonker het ook ‘n Ford trekker na hom geneem, wat se enjin vervang moes word én sy Mahindra voertuig was stukkend.

In ruil vir die stukkende trekker, het mnr. Pelser vir hom ‘n herboude Massey Furgeson aangebied. Verder het hy twee trekkers in ruil vir die Landcruiser aangebied. Die reëling was dat hy dan later die balans van meer as R100 000 sal betaal, sodra hy sy geld ontvang het.

Die Mahindra het vir ‘n lang tyd by Fanatic Paneelkloppers gestaan, sodat mnr. Jonker die groen lig kon gee dat daar gewerk kon word aan die voertuig.

Mnr. Pelser het egter nie die fondse ontvang nie en is in Februarie vanjaar gesekwestreer. Daar is aangedui dat hy besig is om die twee trekkers wat in die insolvente boedel is, terug te koop. “Japie moet net rustig raak en die prokureur kom sien. Ek is nie by magte om met hom te onderhandel nie.”

• Hy sê die palissade heining van die Breedt-gesin het hy 85% voltooi en toe was sy fondse uitgeput. Hy het dit so aan hulle verduidelik.

• Op mnr. Jan du Preez se aantygings, is gemeld dat mnr. Du Preez met ‘n siviele regsaksie begin het.

• Hy het erken dat hy wel mnr. Jonker se trekker aan die sakeman verkoop het, maar dat dit met toestemming van mnr. Jonker geskied het.

• Hy hét mnr. Du Preez se sleepwa aan die sakeman verkoop en “ek kon nie vir hom die papiere gee nie, want ek moes die nuwe wa op dié papiere registreer.”

• Mnr. Pelser sê mnr. Johan Bezuidenhout (boorgat) se eis is by die kurator.

Mnr. Japie Jonker is boosaardig kwaad vir mnr. Johann Pelser, maar hy kan byna niks doen nie, want mnr. Pelser is gesekwestreer.
Mnr. Japie Jonker is boosaardig kwaad vir mnr. Johann Pelser, maar hy kan byna niks doen nie, want mnr. Pelser is gesekwestreer.

• Hy het nog nie die R35 000 vir die spuitverf van die Landcruiser betaal nie, want hy het vir hulle gesê dat sekere parte nog geverf moet word.

• Hy sê hy skuld mnr. Hardus van der Berg net R3 500 “en ek sal betaal sodra my geld reg is.”

* Mnr. Pelser het mense genooi wat nog ongelukkig is ook spesifieke sake, om hom te epos by johann@knl.co.za. “Ek sal dit dan aan die kurator oorhandig as die eise nog nie ingegee is nie.”

Ai tog die trekker……en die Landcruiser en die Mahindra:

Mnr. Japie Jonker kan byna nie in woorde beskryf hoe kwaad hy is vir mnr. Johann Pelser nie, en dit alles oor ‘n Landcruiser, ‘n trekker en ‘n Mahindra.

Hy is intussen na die polisie, waar hy ‘n voertuigdiefstalklagte aanhangig gemaak het.

Mnr. Pelser het verlede jaar aan die Landcruiser se ratkas gewerk, maar binne twee weke was dit weer stukkend en hy het die Landcruiser teruggevat.

Mnr. Pelser het vir hom gevra of hy nie die Landcruiser by hom kan koop nie. Mnr. Jonker het gesê hy kan nie, want die Landcruiser is nog onder waarborg.

Mnr. Pelser het voorgestel dat hy die paaiemente sal oorneem. “Hy het gesê dat hy vir twee maande die paaiemente sal betaal en dan die voertuig by die bank gaan aflos, want hy gaan “miljoene by ‘n myn kry.”

Mnr. Jonker het ook ‘n Ford trekker en ‘n Mahindra vir hom gegee om reg te maak en R20 000 deposito betaal.

Toe daar ‘n geruime tyd verloop en hy niks van mnr. Pelser hoor nie (hy het ook nie die paaiemente op die Landcruiser betaal nie), het mnr. Jonker hom gaan konfronteer.

“Hy het begin huil en erken dat hy my voertuie verkoop het. Maar dat hy vir my die Massey Furgeson en snyer, wat voor in sy erf gestaan het, sal gee vir net R45 000. Toe hy my goed verkoop het, het hy gesê dat hy my ‘n derde trekker sal bygee, met ‘n snyer, om jammer te sê dat hy my so rondgeneuk het.”

Mnr. Jonker het mnr. Pelser vroeg vanjaar weer aangespreek. “Hy het laas jaar al gesê hy gaan hom laat sekwestreer en sodra die sekwestrasie afgehandel is, sal hy my goed vir my teruggee.”

•Nadat niks gebeur het nie, het hy hom twee maande gelede tot die Observer gewend. ‘n Vergadering is met. mnr. Pelser en sy prokureur, mnr. Werno van Aswegen gereël, waarin verduidelik is dat hy gesekwestreer is en dat hulle met mnr. Jonker probeer onderhandel het, maar sonder sukses.

• Die Landcruiser se bakwerk het mnr. Jonker verlede week by ‘n paneelkloppers opgespoor, waar hulle besig was om dit oor te spuitverf.

• Die Observer het hierdie week verneem dat mnr. Jonker se Mahindra, wat destyds ingesleep is deur Fanatic Paneelkloppers, deur dié besigheid verkoop is om die meer as R70 000 se insleep- en stoorkostes te dek.

• Daar is intussen vasgestel dat mnr. Pelser in 2002 en 2003 in Heidelberg op twee klagtes, waaronder diefstal en bedrog, skuldig bevind is en opgeskorte vonnisse opgelê is.

Was al skuldig bevind:

Mnr. Johann Pelser het erken dat hy al skuldig bevind is aan bedrog en diefstal.

Mnr. Pelser is in die tydperk 2002-2003 skuldig bevind aan bedrog en later ook diefstal. Hy is op beide klagtes elk twee jaar tronkstraf opgelê, wat opgeskort is vir vyf jaar.

“Die sake het vier jaar gesloer en ek het op aandrang van my prokureur destyds skuldig gepleit.”

Daar is verneem dat daar destyds in dieselfde tyd sowat 12 sake teen mnr. Pelser aanhangig gemaak is, maar dat dit later teruggetrek is. “Selfs dié wat hul sake teruggetrek het, het ek terugbetaal.”

• Mnr. Pelser se prokureur, mnr. Werno van Aswegen, het gesê dat die howe nie sake ouer as 10 jaar in ag neem nie.

• Mnr. Japie Jonker het gedurende September ‘n klagte van diefstal van ‘n voertuig by die polisie aanhangig gemaak. Mnr. Pelser en sy regsverteenwoordiger het aangedui dat hulle nie weet van die klagte nie. “As die polisie vra, sal ek en my kliënt ingaan,” het mnr. Van Aswegen gesê.

Back to top button