Hiert jou vlak-vark!

Die een ou vlakvark was vet en die ander ou vlakvark was maer en toe is hy so wrintiewaar op pad na Kanonkop Superspar!

Twee vlakvarke het inwoners van Dennesig en Kanonkop al van Sondag af laat bontstaan.

Die eerste persoon wat met die vlakvarke kennis gemaak het, was mnr. Arno la Grange. Toe hy Sondagmiddag omstreeks 15:00 by die venster uitkyk, kon hy sy oë nie glo nie! ‘n Reuse vlakvark het aan die buitekant van sy erf gestaan en in die erf was daar ‘n jong vlakvarkie.

Hy het dadelik ‘n noodroep op die Kanonkop/Dennesig/Middedorp radiogroep uitgestuur.

Mnre. Piet Rademeyer en Hugo Stapelberg het op die noodroep reageer. Met hul aankoms het die groot vlakvark verdwyn. Hy is die laaste keer gesien oppad na die Dennesig dammetjies.

Die klein vlakvarkie het die twee mans aangejaag tot by die veld aan die bokant van Dennesig.

Dit was egter nie die einde van die varkverhaal nie.

Maandag omstreeks 11:00 het me. Zunette Truter se huishulp vir haar geskreeu: “Kom kyk hier!”

Toe sy by die venster uitkyk, van hul huis in Gideon Scheeperstraat af, het sy gesien hoe hul buurman se hond deur hul erf (‘n oop erf) hardloop, met ‘n vlakvark agterna!

“As ek my kamera gehad het, het ek ‘n foto geneem, maar hy was soos blits. Die hond is by sy eienaar se erf in en die vlakvark het verder gehol.”

Sy het later honde hoor blaf in Christiaan de Wetstraat en het aangeneem dat hy daar die honde ook op hol gejaag het.

Net ‘n uur later het die knaap me. Mali Combrinck laat glo sy is skielik in die wildtuin.

Sy het vanaf Olienhoutstraat se rigting opgedraai in Njalastraat, om iets by Kanonkop Superspar te gaan koop, toe vlakvark se kind, stert in die lug, voor haar in die pad afdraf.

Terug by die huis het sy ook ‘n noodroep op die radio uitgestuur sodat mense moet uitkyk vir die vlakvark. “Daar is kinders wat van die skool af kom en ek wou seker maak hulle loop nie in hom vas nie.”

• So vark! Die Observer het vir meer as ‘n uur na die vlakvark gesoek, maar kon hom nêrens opspoor nie.

• In Maart 2009 moes mnr. Francois Cox ‘n reuse bosvark in Dennesig skiet toe die dier dwarsdeur ‘n sitkamervenster gestorm en mense en diere se lewens, in gevaar gestel het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version